Samesmelting van Klein Karoo en Mosstrich

• Inisiatief in gevorderde stadium

Deur Liesel le Roux
’N INISIATIEF vir die samesmelting van Klein Karoo International – Klein Karoo Eiendoms Beperk se volstruisbesigheid – en Mosstrich is in ’n gevorderde stadium.

Klein Karoo International (KKI) en Mosstrich sal ná so ’n samesmelting aandeelhouers wees in ’n nuwe maatskappy wat voorlopig bekend staan as NEWCO.

Volgens Johan Schoeman, uitvoerende hoof van Klein Karoo Eiendoms Beperk, het samesprekings oor die samesmelting verlede jaar begin.

Albei maatskappye se direksies het reeds so ’n samesmelting goedgekeur. Albei se aandeelhouers (lede) het daarna by ledevergaderings ook so ’n samesmelting met oorweldigende meerderhede goedgekeur.  99% van Klein Karoo se lede en 85% van Mosstrich se lede het ten gunste van same­smelting gestem.

Die twee maatskappye is tans besig met ’n omvangryke aansoekproses by die mededingings­kommissie vir die goedkeuring van die voorgestelde samesmelting.

Schoeman sê hulle is vol vertroue dat die aansoek sal slaag.

“Ons glo dat KKI sowel as Mosstrich se looie-rye en abattoirs baie meer doeltreffend, gefokus en doelmatig sal kan funksioneer ná so ’n samesmel-ting.

“Ons is van mening dat samesmelting die besigheid beter sal posisioneer vir toekomstige groei en verskans teen besigheidsrisiko’s, en ook die geleentheid bied vir die benutting van geleent­hede in ’n veranderde sakeomgewing.”

Volstruisprodusente sal regstreeks inspraak kry in die nuwe maatskappy met 70% van die stemreg wat sal berus by aktiewe volstruisprodusente.

Ook werknemers sal inspraak kry met 10% van die stemreg. Die ander 20% van die stemreg word verdeel tussen KKI (10%) en Mosstrich (10%).

Die werknemerstrust kry ook eienaarskapsaandele van die nuwe maatskappy. Die eienaarskap­aandele sal verdeel word tussen KKI (56,7%), Mosstrich (33,3%) en die werknemerstrust (10%).