Honderde groet niggies wat in botsing sterf

’n Toneel by die begrafnisdiens vir Jamy-Lee Bruicelin Jonas (15) en Mia Volia Lewis (8) Saterdag. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
“HULLE was twee pragtige sonneblomme wat die Here op hul mooiste kom pluk het.”

So het past Niklaas Stander van die Vryheidsgemeente die twee niggies, Jamy-Lee Bruicelin Jonas (15) en Mia Viola Lewis (8), Saterdag tydens hul begrafnisdiens in ’n volgepakte Nicholaniasaal in Bridgton, Oudtshoorn beskryf.

Die niggies het die vorige Sondagaand in ’n botsing op die pad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp gesterf toe die Volkswagen Caddy-bakkie waarin hulle passasiers was met ’n Ford Ranger-bakkie gebots het wat na bewering ’n U-draai in die pad gemaak het. Hulle was saam met ander familielede onderweg huis toe na ’n begrafnis die vorige dag op Calitzdorp.

Stander het die familie en vriende van die kinders getroos na aanleiding van Johannes 14:1 wat lui: Laat julle harte nie ontsteld word nie; Glo in God en ook in My.

“Die twee jong kinders se drome, klein of groot, was die aand van die ongeluk binne sekondes iets van die verlede. Die ongeluk het hulle van hul toekoms beroof, maar wees verseker dat hulle in ’n veilige plek is,” het hy gesê.

Godfrey Lottering, ’n familielid, het in sy huldeblyk Jamy Lee beskryf as ’n pragtige dogter “van binne en buite”.

“Sy was altyd op haar plek en ’n op-en-wakker kind met ’n sprankelende persoonlikheid wat res­pek afgedwing het. Haar skoolwerk was vir haar ’n prioriteit en sy wou net altyd meng met positiewe mense.”

Volgens Lottering het een van haar onderwysers haar as ’n “engelkind” beskryf.

Sy het nie nonsens gevat nie en selfs die seuns in haar klas moes katvoet loop, het hy gesê.

Die agtjarige Mia was haar oupa James en ouma Lucy se trots.

“Sy was die een wat gesorg het dat haar ouma haar medikasie op die regte tyd kry en wat die hek vir haar oupa oopgemaak het.”

Leerders van die Hoërskool Môrester waar Jamy- Lee ’n graad 9-leerder was, en die Laerskool Sacred Heart waar Mia ’n graad 3-leerder was, het ’n erewag buite die Nicholaniasaal en by die begraafplaas gevorm.

Môrester-leerders het tydens die roudiens ook om die kis van Jamy-Lee stelling ingeneem en die skoollied gesing.