Wesbank loop deur onder diefstal

Inwoners van Wesbank stap Dinsdag langs die Grobbelaarsrivier aangrensend aan die gebied waar misdaad die afgelope ruk toegeneem het. Foto: Schalk le Roux

Dié snoeisker is in ’n tuin in Jakarandalaan gevind en gebruik om ’n venster oop te breek. Foto verskaf

Een van verskeie hawelose inwoners wat in die beboste gebied langs die Grobbelaarsrivier woon. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
INWONERS van Wesbank-Suid het die week self ingespring en die dig beboste gebied langs die Grobbelaarsrivier tussen Albert- en Bloemstraat (Maandag) en ook tussen Bloemstraat- en Vrede-straat (Dinsdag) besoek nadat die woonbuurt erg onder diefstal deurgeloop het.

Die inwoners se optrede het gevolg nadat huise in Wesbank verlede week helder oordag verskeie kere deurgeloop het onder inbrake en gepoogde inbrake.

Die toename in misdaad het gepaard gegaan met talle inskrywings deur inwoners op Whats­App-buurtwaggroepe oor mense wat in die strate drentel en deur heinings in erwe rondloer, oor mure pro­beer klim, en in die rigting van die toegegroeide Grobbelaarsrivier vlug wanneer hulle gekonfronteer word. Inwoners van die gebied vra al baie lank dat die munisipaliteit die beboste gebied om die rivier moet skoonmaak.

Volgens Christo Cloete, ’n inwoner van Wesbank en ook AfriForum Outshoorn se veiligheids­verteenwoordiger, was daar tydens die twee besoeke aan die rivier duidelike tekens van misdadige bedrywighede. Hy sê daar is byvoorbeeld tekens gevind van koperkabels waarvan die plastiek afgebrand is, terwyl ’n groep wat Maan­dag saam met Fanie Erasmus gestap het, op verskeie kaarte soos ID-kaarte, bankkaarte en selfs Smart Shopper-kaarte afgekom het.

Cloete sê die inwoners van Wesbank wil graag met die Polisie en munisipaliteit saamwerk sodat die gebied langs die rivier skoongemaak kan word. Hy sê hulle beoog om brig Levona Januari, stasie­bevelvoerder van Oudtshoorn, te besoek en foto’s wat hulle langs die rivier geneem het, aan haar voor te lê. Hulle hoop dat hulle en die Polisie dan saam die munisipaliteit sal kan nader vir verdere gesprekke.

So loop Wesbank deur
Volgens Rothea Oosthuizen, ’n inwoner van Jakarandastraat, weet sy van vier inbrake in dié rustige straat verlede week. Haar huis het Vrydagmiddag deurgeloop.

Inbrekers het ’n snoeisker gebruik om by ’n klein venstertjie in te breek en byna al haar elektroniese toerusting gesteel – onder meer haar skootrekenaar, tablet, MP3-speler en powerbank. ’n Skoenafdruk is in die tuin gevind en ’n snoeisker in ’n bedding.

Nog inwoners wie se huis deurgeloop het terwyl hulle nie tuis was nie, is Herman en Leigh Myburgh wat in Parkweg naby die Oudtshoorn Hospitaal woon. Volgens ’n Facebook-inskrywing van Leigh kort ná die inbraak is onder meer skootrekenaars, tablette, ’n Playstation en speletjies, ’n Volcano Speaker, juwele, selfone en horlosies gesteel.

’n 25-jarige man is reeds vasgetrek in verband met die inbraak wat Sondag tussen 09:00 en 12:00 plaasgevind het. Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die meeste van die Myburghs se gesteelde goedere teruggevind. Die man het gister in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn.

Na verneem word, is verskeie batterye van hekmotors ook die afgelope ruk inWesbank gesteel, onder meer in Keyterstraat en Jan van Riebeeckweg. Dié diefstalle vind blykbaar saans plaas.