
• Waterbeperkings hier • Water meer as 15 kl word 10% duurder
Deur Liesel le Roux
MET die vlak van die Raubenheimerdam wat Woensdag op 41% gestaan het, gaan inwoners van Oudtshoorn nou begin om die uitwerking van die huidige droogte aan hul sak te voel.
Spesiale droogtetariewe op water word vandeesweek deur die munisipaliteit in Die Hoorn geadverteer (bladsy 8) en raak reeds inwoners van Oudtshoorn se huidige waterverbruik. Die watertarief vir verbruik meer as 15 kl styg met 10%. Die droogtetariewe geld nie vir die inwoners van De Rust en Dysselsdorp wat nie water van die Raubenheimerdam ontvang nie.
Waterbeperkings vir alle inwoners van die Groter Oudtshoorn – Oudtshoorn, De Rust en Dysselsdorp – is ook met onmiddellike effek ingestel.
Droogtetariewe
Die raad het verlede jaar ’n besluit goedgekeur dat droogtetariewe gehef mag word sodra die Raubenheimerdam onder 50% daal. Hoewel die damvlak al geruime tyd laer is, het die raad tot dusver nog die inwoners dié hoër tariewe gespaar.
Die munisipaliteit waarsku in vandeesweek se advertensies dat huidige waterverbruik reeds teen die hoër tarief bereken sal word aangesien dit ingesluit sal wees by die Meifaktuur wat op 10 Junie betaalbaar is.
Waterverbruik vir die Aprilfaktuur wat op 10 Mei betaalbaar is en nog uitgestuur moet word, is egter nog op die laer tarief bereken.
Waterbeperkings
Wat die waterbeperkings betref, mag inwoners voortaan slegs tuine natlei tussen 08:00 en 10:00 en tussen 16:00 en 18:00 op alternatiewe dae drie keer per week. Eiendomme met gelyke straatnommers kan op Maandae, Woensdae en Vrydae natgelei word, en eiendomme met ongelyke straatnommers op Dinsdae, Donderdae en Saterdae.
Oortreders van dié en ander waterbeperkings sal met ’n kitsboete van R1 000 beboet word.
