Klag teen burgemeester

• Spanning binne ANC in Kannaland

Deur Liesel le Roux
DIE Ladismith Polisie ondersoek ’n klag van aanranding nadat die ANC-burgemeester van Kannaland, Magdalena Barry, na bewering die na­week ’n 60-jarige vrou by ’n ANC-vergadering met ’n selfoon teen die wang geslaan het.

Barry se woordvoerder, Ian Avontuur, het gister die aantygings teen Barry in ’n sterk bewoorde verklaring verwerp en dit bestempel as deel van ’n veldtog om politieke onstabiliteit in die Kannaland Munisipaliteit te bewerkstellig. “Die burgemeester ont­­ken ten sterkste die aanklag van aanranding, en beskou dit as deel van ’n doelbewuste smeerveldtog teen haar,” sê Avontuur.

Die klag is aanduidend van interne spanning binne ANC die ANC in Kannaland.

Avontuur het die ANC Zoar se taksekretaris, Eugene Ludick, daarvan beskuldig dat hy besig is met ’n politieke veldtog teen Barry. Ludick het saam met die klaagster, Susanna Johannes, die klag teen die burgemeester by die polisie ingedien.

“Ons is vol vertroue dat die Nasionale Vervolgingsgesag die politieke motief agter die beweringe sal sien, en dat hulle sal weier om Barry te vervolg,” sê Avontuur.

Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse Polisiewoord­voerder, het die voorval Saterdag omstreeks 17:00 in Amalienstein plaasgevind.

“Na bewering het die slagoffer by ’n ANC-vergadering ’n vraag aan die burgemeester gerig, maar het sy nie ’n antwoord gekry nie. Die slagoffer het toe uit die saal gestap. Buite die saal is sy deur die verdagte voorgekeer wat haar na bewering met ’n selfoon teen die regterkant van haar wang geslaan het terwyl vulgêre taal gebruik is,” sê Pojie.