Deur Liesel le Roux
DIE Mededingingskommissie sal na verwagting teen vandag uitspraak gee oor Klein Karoo International (KKI) en Mosstrich se aansoek om saam te smelt.
KKI en Mosstrich het in Julie by ’n tribunaal in Pretoria weer ’n geleentheid gekry om die Mededingingskommissie te oortuig dat ’n samesmelting van die twee maatskappye tot voordeel van die volstruisbedryf en die voortbestaan daarvan sal wees.
Hul oorspronklike aansoek in 2018 om samesmelting is deur die kommissie afgekeur.
Die tribunaal het getuienis aangehoor van onder meer die twee maatskappye, boere, kleinhandelaars en ekonomiese kundiges.
KKI en Mosstrich se aansoek is aanvanklik afgekeur omdat die kommissie bevind het dat so ’n samesmelting “tot ’n amperse monopolie” in die mark vir volstruisvleis en vere sou kon lei.