Corneil Müller wat op 26 Oktober saam met Corlea Botha optree in Classical Tribute to the Music of Lloyd-Webber op Celebratio buite Oudtshoorn. Foto verskaf
Aanhangers van Andrew Lloyd- Webber het almal ’n paar gunsteling-liedjies uit sy musiekblyspele. Die produksie Classical Tribute to the Music of Lloyd-Webber, wat op Saterdag 26 Oktober op Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word, beloof om nie teleur te stel nie – volgens die samesteller Paul Loeb van Zuilenberg is omtrent ál Lloyd-Webber se grootste treffers dié aand op die program.
Die kunstenaars wat die aand saam met die Stellenbosch Stadsorkes gaan optree, is Corlea Botha en Corneil Müller.
Dit sal die vierde keer wees wat Corneil in die produksie optree, maar dit sal die eerste keer wees wat hy en Corlea ’n verhoog sal deel.
Volgens Corneil sien hy ongelooflik uit daarna. “Corlea het ongetwyfeld een van die beste stemme in ons land en ook in die wêreld,” sê hy.
Volgens Corneil kan die gehoor ’n aand gevul met pragtige musiek en “lekker luister” verwag. Sy gunsteling Lloyd-Webber-lied is “Music of the Night”, wat hy dan ook by die konsert op Celebratio sal sing.
Corneil sing al 12 jaar lank professioneel, hoewel baie mense eers sy naam begin herken het ná sy optrede in the onlangse The Voice SA-televisiereeks.
“Die handelsmerk van The Voice dra baie gewig en dit het verseker my loopbaan bevorder. Maar dit bly harde werk. Soos enigiets in die lewe hang sukses net van jouself af. Talent is nie genoeg nie.”
Sy gunsteling-genre is ligte klassieke musiek, hoewel hy ook nou en dan klassieke rock geniet.
Dit beloof om ’n fantastiese aand onder die sterre van die Klein Karoo te wees – Celebratio is geleë op die
Ou Sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp en die uitsig op die berge en die plaas is asemrowend met die granaatbome wat reeds begin bot het.
Die gehoor kan treffers uit musiekblyspele soos Phantom of the Opera, Cats, Evita en Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat verwag.
Die vertoning begin om 20:00, maar die kos- en wynstalletjies open reeds om 18:00. Plaaslike restaurante soos Bella Cibo, Karooboom en Nostalgie het heerlike eetgoed op hulle spyskaarte terwyl Calitzdorp Wynkelder, Black Mountain Gin en Liquorland sal sorg vir iets te drinke.
Kaartjies kos tussen R180 en R220 en is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za of by PostNet op Oudtshoorn. Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.