BOETIEKBIER, wyne, craft gin, volstruis-burgers, skaapkop, roosterbrood, afval en granaatroomys…
Dié lekkernye is maar ’n paar van die lekkernye wat geproe en gekoop kan word by die heel eerste Klein Karoo Proe-fees, wat op 21 en 22 September op die granaatplaas Celebratio aangebied word, sowat 35 km buite Oudtshoorn op die sementpad.
Dit beloof om ’n ware familiefees te wees, met iets vir elkeen se smaak.
’n Toegangskaartjie na die fees sluit ’n wynproeglas in, gratis vermaak en bied ’n proe-ervaring soos min vir smulpape.
Die feesprogram sluit ook ’n kosteater in waar chefs elke dag vier kosdemonstrasies gaan doen en feesgangers ’n hele paar kos truuks sal kan leer. Verskeie kunstenaars sal sorg vir lewendige musiekoptredes by die restaurant-terras waar feesgangers by ’n tafel kan sit en ’n bietjie bene rus. Ander prettige aktiwiteite sluit ’n skaapkop-eetkompetisie in.
Kom hoor ook watter slaghuis die beste boerewors in die distrik maak – daar sal genoeg wees sodat nie net die beoordelaars kan proe nie!
Die Klein Karoo Proe-fees is ’n spanpoging in samewerking met die Oudtshoorn Sakekamer, Oudtshoorn Toerisme en Agri Klein Karoo. Die doel van die fees is om vervaardigers en produsente van dié droogtegeteisterde area die geleentheid te bied om hul unieke produkte direk aan die publiek bekend te stel en besoekers bloot te stela aan al die unieke produkte van die Klein Karoo.
Die feestye is van 10:00 tot 18:00 op die Saterdag en 10:00 tot 17:00 op die Sondag.
Kaartjies kos R150 per persoon wat toegang tot die kosteater insluit. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by www.celebratio.co.za asook by PostNet op Oudtshoorn.