Trekkersafari tot binne-in ‘n volstruiskamp

Met so ’n trekkersafari kan besoekers deesdae naby aan die volstruise van die Safari Volstruisskouplaas buite Oudtshoorn kom. Foto verskaf

Met so ’n trekkersafari kan besoekers deesdae naby aan die volstruise van die Safari Volstruisskouplaas buite Oudtshoorn kom. Foto verskaf

BY die Safari Volstruisskouplaas buite Oudtshoorn kan besoekers deesdae met ’n trekkersafari tot binne-in die plaas se volstruiskampe ry en so baie naby aan dié besondere voëls kom.

Dié plaas is sedert 1956 ’n werkende kommersiële volstruisplaas en ook ’n uitvoerplaas wat aan die vereistes van die Europese Unie (EU) voldoen.

“Tot onlangs het ons van ons besoekers onder streng toesig en reëls toegelaat om vir ’n foto op die rug van ’n volstruis te poseer of mense onder 60 kg toegelaat om op een van ons volstruise te ry, maar ons het besluit om dit te staak,” sê Billy Engelbrecht, bemarkingsbestuurder van Safari.

Volgens Engelbrecht is besluit om die plaas se begeleide toere eerder ’n prettige en opvoedkundige ervaring te maak. Hiervoor is die trekkersafari’s ingestel wat besoekers tot binne ’n volstruiskamp neem, iets wat andersins onmoontlik sou wees omdat die volstruise jou nie te voet in hul kampe sou toelaat nie. (Berig deur Liesel le Roux)