Die tuinontwerper het gesorg vir detail in elke hoekie van die tuin. Foto: Marlene Malan
Deur Marlene Malan
DIE nuwe eienaars van die gastelandgoed Mirtehof in Prins Albert, Stevan Möller en Bets Möller (néé Janse van Rensburg), se band met die dorp strek terug na die vroeë 1900’s toe Bets se oupagrootjie, Christiaan Bam, landdros op Prins Albert was.
Dis een van die redes waarom dié Bloemfonteinse egpaar altyd wou terugkeer na die Groot Karoo: Eers net om te kom kyk, en later om self eiendom te koop. En toe hulle eers hul eerste huis in Markstraat, Prins Albert, aangeskaf het, het hulle geweet: Hul jarelange droom – om ’n gastehuis te begin – lê om die draai.
“Daar was vir ons geen beter plek as Prins Albert nie,” vertel Stevan. Kombineer dit met Bets se wens om “eendag” ’n eie plaastuin en vyebome te hê, en dit was nie vir hulle moeilik om die volgende tree te gee nie. Dit was om Mirtehof, ’n historiese plaas van 4,7 ha, te koop toe dit in die mark kom.
“Daar was twee geskikte eiendomme, maar ons het Mirtehof gekies omdat dit nog werk nodig gehad het – en ons wou graag ons eie stempel afdruk.”
Die gastehuis is in September 2018 geopen. Ry jy vandag deur die mooi houthekke van dié eiendom aan die Swartbergkant van die dorp, begroet ’n lushof jou. Die statige hoofopstal is tot sy oorspronklike glorie gerestoureer en die tuin om die huis illustreer presies die woord “paradys”.
Elke hoekie van die huis, elke bedding en paadjie in die tuin is tot in die fynste detail beplan. Dat die hoofwoning in ’n gastehuis omskep is, is byna onopvallend – terwyl elk van die drie suites (The Prince Albert Suite, The Orchard en Arcadia) privaat is, met eie kuierareas, buitedeure en stoepe. Gaste wat hier tuisgaan, kan egter ook ’n gemeenskaplike sitkamer en twee ontbytstoepe gebruik.
Mirtehof het ook ’n selfsorg-gastekothuis met twee eenhede wat apart of as ’n eenheid bespreek kan word. In die middel van die tuin, naas die swembad, is ’n onthaalvertrek – of tuinhuisie – waar gaste kan uitspan.
Volgens die Möllers is die tuin beplan met die hulp van die tuinontwerper Rentia Verster en die bouers Adan Liepner en Neels Swart. Stevan, wat ’n loopbaan op landbougebied en in die eiendomsmark gebou het, het sý wens laat waar word – om ’n groentetuin deel van die hooftuin te maak. Die eindresultaat staan nie ’n tree terug vir die beddings roosbome en ander plante nie.
Dit was vir die egpaar belangrik om plaaslike arbeid te betrek. Die vier tuinwerkers en drie werkers in die hoofwoning is almal Prins Alberters. Net die gastehuisbestuurder, Hester Nel, ’n Vrystater uit Ficksburg se wêreld, is “ingevoer”.
’n Aantreklikheid vir stadsmoeë besoekers is die rustigheid en plaasatmosfeer met sewe donkies, twee ponies, twee skape, ses henne en een haan in kampe op die verste punt daarvan.
Volgens Stevan en Bets het Mirtehof in die 1890’s aan ene De Vries behoort. Sy dogter, Helena, was glo verlief op die skrywer CJ Langenhoven van Oudtshoorn. Die pa het sy dogter egter gedwing om hul verlowing te verbreek weens die “onsekerheid” oor Langenhoven se lewe en loopbaan.
Stevan en Bets pendel tans nog tussen Bloemfontein – waar Bets ’n patoloog is – en Prins Albert, maar die dag kom nader wat hulle hul permanent in die Karoo gaan vestig. “Ons kan skaars wag!” sê Stevan.