Rock, folk, blues by La Dolce Vita

Deur Angelique Erasmus
LIEFHEBBERS van rock, folk en blues hoef vanjaar nie verder te soek as La Dolce Vita op Oudtshoorn om te gaan uitspan nie.

Christof Bezuidenhout, eienaar van dié gewilde eetplek in Baron van Reedestraat, sê toegang is vanjaar gratis na optredes by La Dolce Vita – sy bederf vir feesgangers.

“Ek het ’n borg gekry om die vermaak te betaal, en nou kan ook mense wat dit nie altyd bekostig nie, ook die fees geniet,” sê hy.

Onder die kunstenaars wat ’n draai gaan maak op die La Dolce Vita-verhoog is die bekende Valiant Swart; gewild onder Afrikaanse musiek­liefhebbers vir sy tipiese rock en roll-styl.

Dié 54-jarige rocker is nie net ’n bekende musikant nie, maar het ook al sy lyf akteur gehou in die gewilde telivisiereeks Song vir Katryn.

Ook op die verhoog by La Dolce Vita is Vagabond King, al die pad van Pretoria. Hulle gaan feesgangers vermaak met hul unieke blues rock-klank, maar daar is ook Amerikaanse, Afrika- en Europese ondertone in hul musiek.

Jose Bezuidenhout, voorsanger van die groep, het al menige male vir groot name in die musiekbedryf geopen.

Christof gee ook vanjaar aan verskeie talentvolle Oudtshoorniete ’n platform om by die KKNK op te tree – kyk uit vir bekende plaaslike kunstenaars soos Janine Fourie, Marisca Rain, Doug van Tonder,

Joshua Paul Williams en Draadhond. Vermaak begin omstreeks 20:00 elke aand. Veranderinge in die program is moontlik.

Tafelbesprekings tydens die KKNK word nie vooraf toe­gelaat nie, behalwe vir die gewilde Pub Quiz Dinsdag.

Vir meer inligting sien gerus die advertensie regs.