Die 19-jarige Xander Pienaar verruil Suid-Afrika vandeesmaand vir Texas in die VSA, waar hy met ’n beurs aan ’n kollege gaan studeer en tennis speel.
Xander het reeds op vierjarige ouderdom begin tennis speel en word die afgelope 15 jaar deur Johan Koch van JK Tennis afgerig.
Volgens Xander het sy tyd by JK Tennis ’n belangrike rol in sy ontwikkeling en liefde vir die sport gespeel.
Hy het verlede jaar aan Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch gematrikuleer. Sy prestasies op die tennisbaan het aan hom ’n beurs besorg om die volgende vier jaar in Texas te studeer en aan kollege-tennis deel te neem.
Hy gaan besigheid en boekhouding studeer en hoop om later steeds by die tenniswêreld betrokke te bly.
“Ek geniet tennis en is dankbaar vir die geleenthede wat die sport vir my geskep het,” sê hy.
Hoewel hy na die nuwe uitdaging uitsien, sê Xander dat hy sy familie, vriende, “coach” JK, braaivleis en Springbok-rugby sal mis.
Hy het ook sy waardering uitgespreek teenoor Jacobus Swanepoel, oftewel Oom Swannie, wat tydens sy hoërskooljare ’n belangrike rol in sy tennisontwikkeling gespeel het.
“Oom Swannie se ondersteuning het ’n groot bydrae tot my tennisloopbaan gelewer. Ek is baie dankbaar vir alles wat hy vir my gedoen het.”
Xander sê sy ouers en ouma se ondersteuning het dit vir hom moontlik gemaak om hierdie geleentheid aan te gryp.
“My ma het baie moeite gedoen om my vir Amerika voor te berei en my deur my hoërskooljare ondersteun. My pa het altyd in my geglo en my met my tennis gehelp. Ek is ook dankbaar vir my ouma, wat altyd gereed is om ons familie te help.”
Xander beplan om ná sy vier jaar terug te keer na Suid-Afrika.
Hoogtepunte uit sy tennisloopbaan
• Hy verwerf sy Suid-Afrikaanse kleure en verteenwoordig Suid-Afrika in Engeland.
• Hy word vir die WP Kavaliers/Boland-o.15-span gekies en speel later as die Boland-o.19-span se nommer een.
• Hy wen die seuns-o.14-enkelspeltitel by die Eden Mini 1-toernooi in 2019.
• Hy word in 2023 as die beste nommer ses-speler by die Kearsney-tennisfees aangewys.
• Hy word in 2024 as die beste nommer drie-speler by dieselfde toernooi aangewys.
• Hy dring in 2024 deur tot die halfeindronde van die ITF J30-toernooi in Stellenbosch.
• Hy is deel van die Paul Roos-spanne wat die Zest Fruit Gerrie Berner- en Grey College-tennistoernooie gewen het. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Xander slaan sy volgende groot hou in Amerika"