Wes-Kaap Fietsry wen beste Sportfederasie in Wes-Kaap

Van links na regs: Cronje Beukes (Jnr Sportman v/d jaar finalis), Sonja Schults (Administrateur v/d jaar finalis), Anja du Plessis (Jnr Sportvrou v/d jaar finalis), Tia Marnevick (Hoërskole Sportvrou v/d jaar finalis), Corne Bence - Wes-Kaap Fietsry (Die Topfederasie in die hele Wes-Kaap), Wes-Kaap minister Anroux Marais. Foto verskaf Foto onder: JP Naude, president van Wes-Kaap sportkonfe-derasie saam met Corne Bence, voorsitter van die Wes-Kaap Fietsry Federasie wat as Sportfederasie van die jaar aangewys is. . Foto verskaf

Finaliste van die Wes-Kaap Provinsiale Sporttoekenning 2023 is tydens ’n glansaand op Saterdag 21 Oktober by die Southern Sun in Kaapstad vereer.

Die Wes-Kaap se top presterende atlete, afrigters, administrateurs en sportliggame van regoor die provinsie is vereer.

Die finaliste, wat as die wenners van die ses streekstoeken-nings tussen Julie en September vanjaar (Overberg, Kaapse Wynland, Kaapstad, Tuinroete, Sentrale Karoo en Weskus areas) tydens hul prysuitdeling aangewys is, het deurgegaan na die Wes- Kaap Provinsiale rondte.

Die Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport, Anroux Marais, het tydens die Provinsiale Sporttoekennings elkeen se trofee oorhandig.

Hierdie jaar het Christo Lamprecht van die Tuinroete die top eer as Sportman van die Jaar ontvang, terwyl Candice Lill van Wes-Kaap Fietsry as Sportvrou van die Jaar aangewys is.

Wes-Kaap Fietsry, waarvan Corne Bence die voorsitter is, het die toekenning ontvang vir die Beste Provinsiale Sportfederasie. Ministeriële toekennings is ook toegeken aan Caylix Sport & Forward Foundation, Hoërskool Oakdale Toutrek Seuns se 560 kg-span en Pool4Change.

Die Departementshoof, Guy Redman, het die aand geopen en die verskeie sportliggame en atlete teenwoordig bedank vir hul ondersteuning en vennootskap vir die werk wat hul vir die Departement van Kultuursake en Sport doen.

“Ons besigheid, wat verbeelding verg en hoop bring, is ’n kern in ons land. Ons wil hê dat ons kinders groot en onkeerbare gedagtes moet hê en ons moet saamwerk om hierdie hoop reg oor die provinsie te bring,” het hy gesê.

Minister Marais het almal gelukgewens wat as wenners in hul streke aangwys is: “Julle wys die vaandel van julle streek. Dankie dat julle rolmodelle en helde vir ons gemeenskappe is.

Dankie dat julle die korrekte en gesonde lewenskeuses maak. Dankie dat julle ’n voorbeeld vir ons almal is”, het Marais haar toespraak afgesluit. (Deur Lindi Brill)