Wen raak ’n gewoonte!

Deur Schalk le Roux en Ben du Preez
NET soos dit ’n gewoonte kan raak om te verloor, net so kan dit ’n gewoonte raak om te wen, sê Keith Meyer, afrigter van Bridgton Rugbyklub ná die A-span se oorwinning Saterdag oor Barbarians in ’n SWD Premierligawedstryd.

Bridgton, wat tweede op die punteleer is, het in ’n wegwedstryd vir Barbarians op Mosselbaai met 33-23 geklop vir hul agtste oorwinning in ’n ry. Dit is ’n rekordgetal oorwinnings ná mekaar.
Ná ’n afdag dié naweek speel Bridgton Sondag, 25 Junie, vanaf 13:00 op die Bridgton Sportgronde teen Progress, die voorlopers in die Premierliga.

Dié wedstryd is die hoofvoorwedstryd in ’n provinsiale wedstryd tussen die SWD Arende en die DHL Stormers wat mekaar vanaf 15:00 op die Bridgton Sportgronde die stryd aansê.
Albei wedstryde word regstreeks gebeeldsend asook die wedstryd tussen Evergreens en Hawston wat om 11:00 begin.

Meyer verwag ’n titaniese stryd teen Progress, maar met die momentum wat Bridgton tans het, en die feit dat hulle op hul tuisveld speel, is hy vol vertroue dat sy span ’n goeie kans het om die wedstryd te wen. “Ons sal egter nie die fout maak om Progress te onderskat nie.”

In Saterdag se wedstryd in winderige omstandighede teen Barbarians het Bridgton se voorspelers die grondslag vir die oorwinning gelê. Die winderige omstandighede het agterspel bemoeilik.

Die Bridgton-vleuel Bradwin Wanies het nogtans twee drieë gedruk. Die res van die drieë is deur die voorspelers gedruk, naamlik Algernon Waarts (agtsteman en kaptein), Wayne Julies (flank) en Ronald Bratz (plaasvervanger slot) wat elkeen een drie gedruk het.
Anver Venter (heelagter) het vier drieë verdoel.

Saterdag se oorwinning plaas Bridgton in ’n goeie posisie vir ’n halfeindstryd op hul tuisveld.
• Bridgton se B-span het het 5-31 teen Barbari-ans verloor. Anrich Daniela (senter) het Bridgton B se enigste drie gedruk.

• Bridgton se C-span het Barbarians B met 29-7 geklop met Blaine James (flank) wat twee drieë gedruk het en Andre Willemse (vleuel), Jan Simmers (slot) en Cheslyn September (plaasvervang-erhaker) elk een drie. Brain Jonathan (heelagter) en Autrich Tiemie (vleuel) het elk ’n drie verdoel.