DIE 42ste Kango Marathon, jaarliks aangebied deur die Oudtshoorn Infanterieskool, vind Saterdag plaas en bied saam met ’n pretstap en -draf môre iets vir almal, ongeag ouderdom of fiksheidvlak.
Verrigtinge begin reeds môre (Vrydag) om 18:00 met ’n 5 km-pretstap en -draf wat op die Infanterieskool se sportterrein plaasvind. Inskrywings is van 16:00 teen R20 per persoon.
Die marathon (42,2 km) en halfmarathon (21,1 km) begin Saterdag om 06:00 by onderskeidelik die Kango Grotte en die Ou Tol. Deelnemers kan môre (Vrydag) tussen 15:00 en 22:00 registreer en hul wedloopnommers by die Infanterieskool in Parkweg afhaal, of andersins tussen 04:45 en 05:50 Saterdag by die wegspringpunt.
Vervoer vir albei wedlope sal vroegoggend vanaf die Infanterieskool se paradegrond vertrek, om 04:00 na die Grotte en om 05:00 na die Ou Tol.
Alle wedlope eindig op die Infanterieskool se sportterrein. Alle deelnemers wat die wedlope binne die afsnytyd voltooi, sal ’n medalje ontvang. Die prysuitdeling vind om 11:30 plaas.
Vir navrae kan kapt Joan Monakedi gekontak word by 0737321740.
• Die Kango Marathon is van 1976 tot 1978 deur die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Oudtshoorn Onderwyskollege aangebied met die Infanterie-skool wat in 1979 genader is om betrokke te raak op grond van sy beskikbare hulpbronne en beplannings- en organisatoriese vermoëns.
Dit is die oudste en die tweede grootste marathon in die Suid-Kaap en ’n kwalifiserende wedloop vir die Twee Oseane en die Comrades.
Die Infanterieskool het vandeesweek in ’n pers-verklaring gesê die skool glo in die belangrike rol wat sport in die uitbou van verhoudings in ’n gemeenskap speel. “Ons het die afgelope 28 jaar nog altyd daarna gestreef om die Kango Marathon op so ’n manier aan te bied dat dit die beeld van die SANW, die dorp en Atletiek SWD bevorder. (Deur Stefan Skapie Goosen)