SUID-AFRIKA se eerste groot bergfietswedren van die jaar, die uitmergelende Attakwas Uitdaag, begin Saterdag op Chandelier buite Oudtshoorn en eindig 121 km verder op Groot-Brakrivier.
Die wedren, ook bekend as die “Hel van die Suide”, is een van die moeilikste fietswedrenne in die land met ’n vertikale klim van 2900 meter.
Die Attakwas, wat deel van die Wêreld-marathonreeks is, word vanjaar vir die 14de keer aangebied en lok top- internasionale en plaaslike fietsryers.
Matthys Beukes en Robyn de Groot, albei van die Suid-Kaap, word beskou as die wedrengunstelinge in die elite mans- en vroue-afdeling. Beukes het die Attakwas reeds drie keer vantevore gewen, in 2012, 2018 en 2019. De Groot sal graag wil wys dat sy weer topfiks is nadat sy vroeg verlede jaar ’n vaskulêre operasie ondergaan het vir ernstige bloedvloeiprobleme in haar een been.
Veral Beukes kan egter groot teenstand verwag, veral in die elite mans-afdeling met fietsryers soos Karl Platt, voormalige wenner, Arno du Toit, die nasionale marathonkampioen, Beukes se PYGA Euro Steel-spanmaat Philip Buys en Matt Beers, wat in 2015 laas deelgeneem het.
Ander fietsryers wat ook in Beukes se nek sal blaas is Nico Bell, Wessel Botha, Gert Heyns, Nicol Carstens, Marco Joubert, Timothy Hammond, Keagan Bontekoning, Sebastian Stark, Tristan de Lange en Jan Withaar.
Alle aanduidings is egter dat die groot geveg om die titel tussen Beukes, Buys en Beers gaan wees. Beukes wéét hoe om die Attakwas te wen en hy’t in 2018 en 2019 onder vyf ure klaargemaak. Indien hy genoeg ondersteuning kry, mag hy dalk net vanjaar Urs Huber se vierjaaroue rekordtyd troef.
In die elite-vrouewedren tree Oudtshoorn se gewilde bergfietsryer Yolande de Villiers ook weer aan. De Villiers het verlede jaar net-net vir Samantha Sanders en Jennie Stegenhager geklop om die Attakwas-titel te wen. Sanders, die nasionale marathonkampioen, neem egter nie vanjaar deel nie. De Villiers, wat in Mei verlede jaar ’n ernstige beenbreuk opgedoen het, het Woensdag aan Die Hoorn gesê haar voorbereiding het glad verloop, sy voel goed en is slaggereed vir Saterdag. De Groot en Stegenhager durf haar nie onderskat nie aangesien sy die roete soos die palm van haar hand ken.
Ander vroue-ryers wat ’n kans staan sluit in Sarah Hill, Theresa Ralph, Amy McDougall en Sabine Spitz.
Vooraf-onderhoude met van die fietsryers sal op Vrydag 17 Januarie van 15:00 af by die Queen’s Hotel plaasvind. Die wedren begin Saterdag om 06:30 by die Chandelier Lodge buite Oudtshoorn.
Vir vars nuus ten tyde van die wedren, volg die Attakwas op Twitter by @attakwas. Foto’s en video’s kan gevind word op @attakwasmtb op Instagram en op die Facebook-bladsy Attakwas Extreme. Vir meer inligting besoek www.atta.co.za.