Kerspartytjie in die straat

DIE Willemse-familie van Swigelaarstraat in Bridgton, Oudtshoorn het vir die derde jaar ’n Kersfees-straatpartytjie vir inwoners van die straat en die omgewing aangebied. Die geleentheid hetmet ’n Kersboodskap deur ds Samuel du Plessis van die Volkskerk van Afrika afgeskop.

Almal het ’n kospakkie gekry, terwyl die jongspan elk met ’n Kersgeskenk huis toe is. Plaaslike kunstenaars het vir vermaak gesorg.

“Kersfees is ’n tyd om te gee en danksy talle mense wat bereid is om dit te doen kon ons weer ’n baie genotvolle geleentheid aanbied,” sê Steven en Sheryl Willemse. Hulle het die inwoners van Swigelaarstraat bedank vir hul ondersteuning. (Deur Garnett Wicomb)