Vlakkiekrieket kraai koning!

Die Neppon Warriors saam met van hul ondersteuners. Foto: Garnett Wicomb

DIE gewildheid van vlakkiekrieket met ’n tennisbal is Sondag (27 Junie) weer dubbeld en dwars beklemtoon toe honderde toeskouers die twee halfeindstryde in vanjaar se Oudtshoorn Premierliga (OPL) T20-ligakompetisie op twee oop stukke grond in Bridgton bygewoon het, en getrakteer is op krieket uit die boonste rakke.

Albei wedstryde het vir spannende, naelbytkrieket gesorg met die uitslae wat tot die einde in die weegskaal was.

Die Neppon Warriors van Willem Goliath het op die veld naas die Toekomsrus- kliniek bekend as “Die Leeukuil” vir ’n groot verrassing gesorg deur Firestones, die verdedigende kampioen, met drie lo-pies te klop, terwyl die Old Crocks van die voormalige SWD-speler, Pieter Stuur­man, die Hungry Lions op Mandelapark, die stuk grond regoor die ou Alpha Teater, ná ’n super-boulbeurt met vier lopies geklop het.

In die wedstryd tussen die Neppon Warriors en Firestones het eersgenoemde eerste gekolf en in sy toegelate 20 boulbeurte 96 lopies op die telbord geplaas. Goliath was sy span se beste kolwer met 31 lopies.

Firestones moes in die laaste boulbeurt agt lopies aanteken maar kon net vier kry wat aan Warriors die oorwinning besorg het.

Die Old Crocks het op Mandela Park eerste gekolf en is tot 74/9 beperk met Stuurman wat 46 lopies en Joseph Saptou wat 23 lopies aangeteken het. Tyrese Karelse (4/21), Ethan Stalmeester (3/13) en Juan Murphy (2/5) was Hungry Lions se beste boulers.

Hungry Lions het met 74/6 geantwoord en sodoende ’n super-boulbeurt afge­dwing. Cameron Rhoode (22), Levano Nathan (16) en Tyrese Karelse (15) was die beste kolwers met Rhupino Plaatjies (3/8) en Merlin Masimela (2/16) Old Crocks se beste boulers.

In die Super-boulbeurt kon Hungry Lions slegs drie lopies van die boulbeurt van Plaatjies aanteken terwyl Old Crocks sewe aangeteken het danksy ’n vier wat Stuurman van die laaste bal gemoker het.

• Tydens ’n vergadering van die OPL Maandagaand is besluit om die wedstryd tussen die Neppon Warriors en Firestones oor te speel ná ’n beswaar van Firestones. Volgens Goliath (Neppon Warriors) het die boeke van die spanne se tellinghouers van mekaar verskil.

Die wedstryd sal ná die huidige aangepaste Covid-19 Vlak 4-inperking oorgespeel word. (Deur Garnett Wicomb)