Van Coller wen drie WP-titels

Deur Garnett Wicomb
CHRISTINE van Coller van die Wesbank Tennisklub het die afgelope naweek in Kaapstad drie titels in die 2018 Westelike Provinsie Seniors Tennistoernooi gewen.

Van Coller het in die afdeling 50+ die vroue-enkelstitel gewen en saam met haar klubmaat, Rida Bester, die dubbelspeltitel behou.

Daarna het sy saam met haar gereelde maat, Warrick Dreyer van Boland, ook die gemengde dubbels in die 45+-ouderdomsgroep ingepalm.

In die enkelspeleindstryd het sy Louise Chiat van die WP maklik met 6-1, 6-1 geklop.

Sy het vroeër vir Zaida Beukes, ook van die WP, in ’n taai halfeindstryd met 6-3, 3-6, 6-3 geklop.

In die eindstryd om die gemengde dubbels (45+) het sy en Dreyer vir Alan en Louise Chiat van die WP met 6-4, 6-3 geklop.
Garnett Wicomb, ook van die Wesbank Tennisklub, het die 75+ enkelspeltitel gewen toe hy Brian Schachat van die WP in die eindstryd met 6-2, 5-7, 6-2 geklop het.

Hy was saam met Raj Naganna van KwaZulu-Natal vierde in 70+ mansdubbelspel.