Deur Higgo Jacobs
Union Stars het Saterdag in ’n SWD Premierligawedstryd nog ’n belangrike oorwinning behaal toe hulle die span van NMU Madibaz met 3 paaltjies geklop het.
Madibaz, wat eerste gekolf het, kon net 105/9 in die toegelate 50 boulbeurte op die telbord plaas.
Union Stars het hierop geantwoord met 106/7.
Geoffrey Perel met 38 lopies en Le Roi Bredenkamp met 27 lopies nie uit nie was Union Stars se beste kolwers.
Envirino Swartz (3/20), Ronald Dirks (2/20), Emile Titus (2/21) en Douglas Baartman (2/29) was Union Stars se beste boulers van die dag.
• Met sommige klubs wat nog ses wedstryde in die Premierliga oor het om te speel, behoort die naweek mededingende krieket op te lewer.
Union Stars speel tuis teen Harlequins Magte. In die Promosieliga speel Ladismith weg teen Blanco, Bongolethu tuis teen Beaufort-Wes en Calitzdorp Young Stars tuis teen Dysselsdorp.
• In die SWD Promosieliga het Bongolethu vir Ladismith met 3 paaltjies geklop, Calitzdorp Young Stars vir Beaufort-Wes met 4 paaltjies en Dysselsdorp vir New Dawn Park met 6 paaltjies.