Union Stars wéér deur na eindstryd

Union Stars, wat as een van Oudtshoorn se suksesvolste sportspanne nog beskryf kan word, het bo-aan die punteleer van die SWD Premier-krieketliga geëindig om weer eens deur te dring na die eindstryd van die liga.

Union Stars het sedert eenwording in 1991 die Premierliga elf keer gewen en was die afgelope elf jaar, net verlede seisoen nie, in die eindstryd nie.

Maar die huidige seisoen was hulle weer goed op dreef en het twaalf van die veertien wedstryde wat hulle gespeel het, gewen vir ’n totaal van 59 ligapunte.

George, wat met 46 punte tweede op die punteleer is, en Knysna Kavaliers met 42 punte derde, speel Saterdag op George uit vir ’n plek in die eindstryd teen Union Stars. Die eindstryd vind Saterdag, 29 Februarie, op die Rec plaas.

Union Stars het Saterdag hul laaste liga­wedstryd op die Bridgton Sportgronde teen Ramblers met drie paaltjies gewen.

Ramblers, wat eerste gekolf het, is almal uitgehaal vir 182 lopies. Bridgton het daarna 183 lopies vir 7 paaltjies in 39.4 boulbeurte aangeteken.

Hoewel die tuisspan met ’n bonuspunt gewen het deurdat hulle die lopieteiken binne 40 boulbeurte verbygesteek het, moes hulle met sewe paaltjies wat gekantel het, kophou vir die oorwinning. En dit het die ervare Pieter Stuurman gedoen deur 61 lopies vir die oorwinning aan te teken.

Vir Stars het Morneal Esau (3/31) en Dillan Nuys (2/34) goed geboul.
Met die kolf het Leroi Bredenkamp (31) en Reagan Booysen vir Stuurman goed ondersteun.