Union Stars veg hard teen Pirates

Deur Higgo Jacobs
In ’n SWD Premierligakrieketwedstryd Saterdag waarin min lopies aangeteken is, het Union Stars van Oudtshoorn sy posisie bo-aan die punteleer verstewig deur Pirates United van Knysna met twee paaltjies te klop.

Pirates, wat eerste gekolf het, het slegs 113 lo-pies in die toegelate 50 boulbeurte aanteken. Stars se beste boulers was Mornay May 3/25, Ronaldo Dicks 2/20 en Envirno Swartz 2/24.

Stars het daarna die wenlopies (114) geslaan met slegs twee paaltjies staande. Stars se spelers wat die beste met die kolf gevaar het, is Douglas Baartman (23 lopies) en Leroi Bredenkamp (18*).

Met dié oorwinning het Stars ná 10 wedstryde 44 punte boaan die punteleer. George lê na 9 wedstryde tweede met 30 punte en Mosselbaai na 10 wedstryde derde, ook met 30 punte.

Harlequins Magte het na 9 wedstryde 21 punte en beklee die 5de plek.

• In ’n Promosieligawedstryd die naweek het Calitzdorp Young Stars vir Ladismith met 3 paaltjies geklop. Ladismith, wat eerste gekolf het, was ná 20,5 boulbeurte almal uit vir 78 lopies.
Calitzdorp het die wenlopies (79) in 21,5 boulbeurte geslaan met nog 3 paaltjies staande.
In nog ’n Promosieligawedstryd het Dysselsdorp vir Blanco met 4 paaltjies geklop. Blanco kon net 65 lopies in 18,3 beurte bymekaarskraap waarop Dysselsdorp met 66 vir 6 in 21,3 beurte geantwoord het.

• Die wedstrydbepalings vir Saterdag en Sondag is soos volg (tuisspanne word eerste genoem)

Saterdag:
Premierliga: Union Stars teen Western Hope; en Harlequins Magte teen Mosselbaai.
Promosieliga: Glen Roses teen Ladismith; Bongolethu teen Calitzdorp Young Stars; en Sussex teen Dysselsdorp.
Reserweliga: Union Stars C teen Bongolethu B.

Sondag:
Premierliga: NMU Madibaz George teen Union Stars; en Harlequins Magte teen Pirates United.
Promosieliga: Beaufort-Wes teen Ladismith.
Reserweliga: Sussex B teen Harlequins Magte; Union Stars B teen Pioneers B; Hartenbos B teen Bongolethu B; en Mosselbaai C teen Union Stars C.