
Pieter Stuurman, Union Stars se staatmaker-kolwer.
Deur Ben du Preez
UNION STARS se eerste krieketspan speel Saterdag (18 Maart) op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) teen Pirates United van Knysna in die eindstryd van die Sedgars SWD Premierliga. Die wedstryd beloof om baie opwindend te wees.
Union Stars, wat die verdedigende kampioen en die gunsteling is, het sewe van die agt eindstryde waarin hulle al gespeel het, gewen. Vir Pirates is dit hul eerste eindstryd, en sal uiteraard hul bes doen om Stars te onttroon.
Sewe van Stars se spelers het eersteklas provinsiale ondervinding teenoor die drie van Pirates.
Die kolwer Pieter Stuurman wat in sy dertiende eindstryd speel, is ’n belangrike speler vir Union Stars.
Ander kolwers van wie baie verwag word, is Marcello Piedt, Gurswin Rabie en Justin Jordaan.
Pirates beskik ook oor wedstrydwenners in Brandon Louw, Bronwill Goeda en Wessel Hartslief.
Die titelwenner dring nie vanjaar vanselfsprekend na die Momentum Klubkampioenskap deur nie.
Die onderskeie wenners van die WP, Boland en SWD gaan vanaf 31 Maart tot 2 April in die Paarl teen mekaar uitspeel. Die wenner neem van 23 tot 27 April in Pretoria deel aan die klubkampioenskap.