NOG ’n Momentum Eendagbekerwedstryd, wat opwindende krieket belowe, vind Saterdag op die Oudtshoorn Sportgronde (Rec) plaas wanneer die Cobras en die VKB Knights mekaar aandurf.
Die Rec is ’n goeie jagveld vir die Cobras deurdat hulle hul vorige drie wedstryde op dié veld gewen het. In Desember 2017 het hulle die Warriors met 78 lopies gewen, in Februarie 2019 die Lions met 21 lopies en verlede maand die Warriors met 31 lopies.
Ashwell Prince, afrigter van die Cobras, verwag ’n positiewe uitslag deurdat hulle verskeie internasionale spelers tot hul beskikking het, naamlik Zubair Hamza, Pieter Malan, George Linde en Dane Paterson.
SWD se draaibouler Tsepo Ndwandwa is ook deur die Cobras nadergetrek en sal waarskynlik ingesluit word in die elftal wat Saterdag gaan speel.
Die Knights sal vol vertroue wees ná ’n oortuig-ende sespaaltjie-oorwinning Sondag teen die Titans in Kimberley. Hulle het ’n teiken van 309 gejaag en danksy ’n uitmuntende onoorwonne kolf- beurt van 163* lopies van 145 balle deur Andries Gous met ses paaltjies gewen.
Die Knights het ook die kolwers Patrick Kruger en Pite van Biljon, wat albei ’n bal hard kan moker, in hul midde. ’n Voormalige SWD-speler wat klubkrieket vir Union Stars gespeel het, Ottneil Baartman, speel ook vir die Knights. Dié oud-leerder van BSS is ’n mediumsnelbouler.
Kaartjies vir die wedstryd is te koop by SWD Krieket se kantore op die Rec op Oudtshoorn en op die dag van die wedstryd by die hekke.
Bykomende parkering is beskikbaar op die parkeerterrein agter die munisipale kantore aan die oostelike kant van die Rec.
Albertus Kennedy, uitvoerende hoofbeampte van SWD Krieket, het inwoners aangemoedig om die wedstryd te kom bywoon en die krieket te kom geniet. Dit gaan ’n baie opwindende wedstryd wees, het hy bygevoeg.
• Die eerste 200 toeskouers wat Saterdag by die Rec opdaag kry gratis toegang. Die wedstryd begin om 10:00.
Uiters opwindende krieket op Rec verwag
