Toy Ungerer (regs) wat goud in die 100 m gewen het saam met die naaswenner, Sheryl Gower van Nieu-Seeland. (Foto verskaf.)
Deur Liesel le Roux
TOY UNGERER (72) van Oudtshoorn gaan Vrydag probeer om haar derde medalje los te hardloop by vanjaar se Wêreldatletiekkampioenskap vir meesters in Malaga, Spanje.
Sy het Suid-Afrika se naam reeds die afgelope week hoog gehou deur die goue medalje te wen in die 100 m vroue (70 plus) en die silwer medalje in die 200 m (70 plus).
Vrydag is die eindronde van die 400meter aan die beurt. Dit is die item waarin Toy tans die wêreldrekordhouer is. Sy het gistermiddag vir die eindstryd gekwalifiseer toe sy haar uitdun in 1:21:57 gewen het.
Haar wêreldrekordtyd wat sy twee jaar gelede in die eindronde van die vorige wêreldmeestersatletiekkampioenskap in Australië opgestel het, is 01:13:97, meer as een en ’n half sekonde vinniger as die vorige wêreldrekord wat ook agter haar naam gestaan het en wat sy enkele dae tevore in haar uitdun by die kampioenskap opgestel het.
Ungerer het voor haar vertrek na Spanje aan Die Hoorn gesê sy wil konsentreer op dié wedloop.
Ungerer het verlede Donderdag koning gekraai in die 100 m in ’n tyd van 16,59 sekondes toe sy haar grootste teenstaander,
Sheryl Gower van Nieu-Seeland, net voor die wenstreep verbygesteek het. Gower was egter die een wat haar Sondag in die 200 m geklop het.
Toy, wat op 58-jarige ouderdom die eerste keer weer haar hardloopskoene sedert haar skooldae aangetrek het én haarself afrig, neem vanjaar aan haar vyfde wêreldmeesters-atletiekkampioenskap deel.