Straatmyl beloof groot opwinding

Vanjaar se Bestmed Edenstraatmyl met prys- geld van meer as R80000 belowe nog meer opwinding as die een van 2015.

Danksy borgskappe deur Bestmed Klein Karoo en Bestmed ATKV is daar ook vanjaar ’n straatmyl vir fietsryers en ’n pretmyl vir gesinne. Van Suid-Afrika se topmansatlete wat op Oudts­hoorn in aksie gesien gaan word, is Dumisane Hlaselo, Elroy Gelant (finalis by die Rio Olimpie­se Spele), Amos Nyongo, Jerry Motsau, DullanSolomons, Thabang Matiwane, Henry Makane, Thandi Sehohle, Keso Molotsane en Godfrey Mothapo. Johan Cronjé, as’t ware ambassadeur van die Eden Straatmylreeks, sal as waarnemer hier wees, maar is weens ’n operasie nog nie ge-reed om deel te neem nie. Onder die voorste vroue-atlete is Simoney Weitsz (verlede jaar se wenner), Chantel de Lange (Nederland), Leanda du Bruyn (Kalifornië), Icarien van Deventer, Amy Abrahams, Anneline Roffey en Kesa Molotsane. Van die klubs en oefengroepe wat hier gaan wees, is NB Multisport, Endurocad van Elana Meyer, Willie Engelbrecht se Zwarries Group, Norman Ontong se Fit 2 Run Group van Worcester, Riversdale Super Kids en die Cecil Roffe Group.

Die wegspring van die eerste been van die straatmyl is op Saterdag, 17 Desember, om 09:00 in Baron Van Reedestraat naby Kleinplaas en ein-dig voor die CP Nel Museum. Die fietsren begin om 10:00. Die prysuitdelingseremonie begin om 11:00 voor Karoopot in Baron van Reedestraat.
Volgens Corné Bence, voorsitter van Eden en Wes-Kaap Fietsry, gaan die fietsrengedeelte van die byeenkoms volgende jaar verder uitgebou word. Anriëtte Schoeman, een van die land se voorste fietsryers, het reeds aangedui dat sy op Oudtshoorn gaan deelneem.

Voornemende deelnemers kan registreer by www.edenmiles.co.za. Vir navrae kan Hans van der Veen by 0834620477 of Dave van der Walt by 0827734901 gekontak word.