Foto: Stefan Skapie Goosen
Die NG Kerk Primêr op Stolsvlakte buite Oudftshoorn, se leerders is verlede Donderdag uit hul skoene bederf deur lede van Dynamite Dance Studio en die ACVV Maatskaplike Dienste met die afsluiting van die skooljaar. Elkeen van die 29 kinders, van grondslagfase tot intermediêre fase, het ’n geskenk met sy of haar naam op ontvang, spesiaal deur Nadia du Preez en haar span opgemaak. Du Preez is die eienaar van Dynamite Dance Studio en ook lid van die ACVV-komitee op Oudtshoorn, en is reeds ’n geruime tyd by die skool betrokke in haar persoonlike hoedanigheid. Die kinders kon op ’n springkasteel baljaar en smul aan varsgemaakte wafels nadat elkeen met groot oë geskenke oopgemaak het. Dawn Boezak, prinsipaal van die skool, het haar dankbaarheid teenoor almal wat die dag moontlik gemaak het uitgespreek.