Sport moet kinders van strate hou

’N SPORTPROJEK wat daarop gemik is om kinders van die strate te hou het Sondag met die eerste vlakkie-krieket- en-netbalwedstryde op oop persele langs 17de Laan in Bridgton afgeskop.

Dit is ’n projek van die Polisie se Sektor 2 onder leiding van kapt JP Nortje, die Gemeenskaps polisiëringsforum (GPF) en die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Wedstryde sal voortaan elke Sondag gespeel word en tot Januarie volgende jaar voortduur.

In die eerste krieketwedstryd het die twee o.15-spanne van die nuwe Polisiehoogte Dagsorgsentrum en die Knights van Golden City mekaar die stryd aangesê.

Die Knights het 99 lopies ge­slaan en daarna die Nasorgsentrum vir 37 lopies uitgehaal.

Jordan Avontuur van Knights was die Speler van die Wedstryd.
In die eerste netbalwedstryde het die Dreamers, Atletico en die Young Eagles teen mekaar gespeel. Die sokkerwedstryde begin komende Sondag.
Volgens Phillip Seroux, be­stuurslid van die GPF, is die hoofdoel van die projek om kinders Sondagmiddae van die stra­te te hou. “Dit is hartseer om te sien hoeveel kinders deesdae by misdaad betrokke raak. Ons wil met sport ’n positiewe bydrae lewer en help om misdaad te bekamp,” sê Seroux.

Hy het ’n beroep op inwoners en besighede gedoen om by die projek betrokke te raak.

Belangstellendes kan Seroux by 079 987 9486 kontak. (Deur Garnett Wicomb)