Skopboksers presteer by SA-kampioenskappe

Op die foto voor van links is Dirk Harold Mostert (Dubbel SA Kampioen), Divan van Deventer (SA Kampioen) en Simon Greeff (2 silwer, brons). Agter van links is Audan Olivier (silwer), Divan Rademeyer (SA Kampioen, brons), Wian Grebe (SA Kampioen, silwer, brons), Anado Olivier (SA Kampioen) en Chaunique Bruce (SA Kampioen, brons). Foto Verskaf

Agt Lede van Grebe’s kickboxing klub het van 25 – 28 April aan die Nasionale Skopbokskampioenskappe in Potchefstroom deelgeneem.

Die doel van die kampioenskappe is om die beste skopboksers in die land te bepaal en dan ’n nasionale span te kies om aan die WAKO Wêreld-kampioenskappe te gaan deel neem.

Die plaaslike skopboksers het uitstekend gevaar tydens die uitdagende toernooi.

Van die agt skopboksers wat deelgeneem het, het sewe SA-titels verwerf waarvan een dubbele SA-kampioen is en ses SA-kampioene.

Dit is ’n besonderse prestasie vir Oudtshoorn.

Ranger Grebe van Grebe’s Kickboxing klub sê dat hy veral groot waardering wil uitspreek vir al die ondersteuners en elke donasie van die dorp se besighede, vriende en familie.

“Dit maak dit moontlik dat ons studente kan ont-wikkel en op die hoogste platforms kan deelneem. Die atlete dra die vrug van oorwinning deur ’n sport en dit is nog ’n wonderlike prestasie vir ons dorp om op trots te wees!”, het Grebe aan Die Hoorn gesê. (Deur Lindi Brill)