Ses goue medaljes vir Eljada Nasorg-atlete op SA Tweekampkampioenskappe

Vlnr: Dave van der Walt, Michele Lombard, Miena Baartman, Maya Ehlers, Elisabeth Botes, Ankia Smith, Jannie Lourens, Danie Botes, Stephnie McKay, Gerda Swart. Foto verskaf

Ses atlete van Eljada Nasorg is tydens ’n spesiale geleentheid op Vrydag, 29 Mei, vereer vir hul uitstekende prestasies op die Suid-Afrikaanse Tweekampkampioenskappe, waar hulle elkeen ’n goue medalje verower het. Die huldigingsgeleetheid het plaasgevind by Eljada Nasorg en het die besondere prestasies van hierdie atlete onder die aandag van die gemeenskap gebring.

Die ses gouemedaljewenners is Jannie Lourens, Danie Botes, Michele Lombard, Miena Baartman, Maja Ehlers en Elisabeth Botes. Hulle sukses is die resultaat van harde werk, deursettingsvermoë en toewyding, en dien as inspirasie vir talle ander sportlui.

Eden Tweekamp speel reeds vir baie jare ’n belangrike rol in die bevordering van deelname deur gestremde atlete. Die klub was een van die sterk dryfkragte agter die insluiting van ’n afdeling vir gestremde deelnemers vanaf klubvlak tot by nasionale vlak in die sport van tweekamp. Hierdie vooruitstrewende besluit het wyd lof ontvang van sportorganisasies sowel as die breër gemeenskap.

’n Bekende voorbeeld van die sukses van hierdie benadering is die internasionale swemster Minke Janse van Rensburg, wat haar sportloopbaan in hierdie kategorie onder die vaandel van Eden Tweekamp begin het. Haar prestasies het bewys dat geleenthede en ondersteuning vir alle atlete belangrike deure kan oopmaak.

Tydens die verrigtinge het Gerda Swart, hoof van Eljada Nasorg, haar waardering uitgespreek teenoor Eden Tweekamp vir hul volgehoue ondersteuning van gestremde atlete. Sy het veral die klub geloof vir hul bereidwilligheid om “die ekstra myl” te stap om geleenthede vir Eljada se sportlui te skep.

Die medaljes is oorhandig deur Stephnie McKay, voorsitter van Eden Tweekamp, en Dave van der Walt, operasionele bestuurder. Albei het die atlete gelukgewens met hul uitsonderlike prestasies en hulle aangemoedig om voort te bou op hierdie sukses.

Eden Tweekamp en die sportgemeenskap van Oudtshoorn wens die ses kampioene van harte geluk. Hulle bewys daagliks dat geen uitdaging te groot is wanneer vasberadenheid, talent en ondersteuning hande vat nie. (GRANWILLE GOLIATH)