Roos, Griebenouw wen eindstryd

Barries Griebenouw, naaslinks, en Etienne Roos, middel, was die wenners van Oudtshoorn Besigheidskamer se finale gholfdag op 4 Desember. By hulle is Gideon Badenhorst, voorsitter van die Besigheidskamer, naasregs, Helen Butler, kantoorbestuurder van die Besigheids-kamer, regs, en Paul Stroebel (klubkaptein) heel links. Foto: Higgo Jacobs

DIE eindstryd van die Oudtshoorn Besigheids­kamer se maandelikse gholfdag Woensdag, 4 Desember, op die Oudtshoorn Gholfbaan is deur Etienne Roos en Barries Griebenouw met ’n telling van 45 punte gewen.
Chloé Malgas-Kelpin en Dave Greeff was tweede met 44 punte, Laurie Boshoff en Mario Marais, ook met 44, op ’n uittel derde, Christo Odendaal en Morné Tome (43) vierde en Gary Hutchings en Piet Swanepoel (42) vyfde.
Louis Fourie jr het op die 18de putjie ’n arend geslaan. Boshoff het op die 3de putjie die naaste aan die pen geslaan, Leon Gouws op die 8ste en Terry van Coller op die 12de.
Verskie spogtwees is aangeteken: Boshoff en Chris Groenewald op die 3de, Gouws en Marius Wilken (8ste), Higgo Jacobs, Malgas-Kelpin en Greeff (12de) en Roos en Van Coller (15de).
Altesame 78 spelers het afgeslaan vir die eind-stryd wat deur James King & Badenhorst Prokureurs geborg is.
Die besigheidskamer se geborgde gholfdae het vanjaar gemiddeld 60 spelers per maand gelok. Dit het sowat R93000 in speelfooie aan die klub besorg. Elke maand is vleispryse en geskenkbewyse van sowat R6000 deur spelers gewen.
Gideon Badenhorst, voorsitter van die Besig­heidskamer, het ná die eindstryd die spelers bedank wat van Februarie tot Desember deelgeneem het, asook die borge wat die aanloklike pryse geskenk het.
“Die besigheidskamer se geborgde gholfdae was saam met die maandelikse vleisgholfdae die ge­wildste dae onder die spelers en het beslis daartoe bygedra dat die klub finansieel oorleef. Moenie net vir die borge hande klap nie, ondersteun hulle ook asseblief,” het hy gevra. (Deur Higgo Jacobs)

Be the first to comment on "Roos, Griebenouw wen eindstryd"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*