Rekordgetal deelnemers kom hul staal wys!

• Weer tyd vir uitmergelende Attakwas!

Bergfietsryers ry teen een van die styl opdraandes uit tydens verlede jaar se Attakwas Extreme Bergfietsren oor 121 km wat 2 900 meter se klimwerk insluit. Hoewel die roete deur skilderag-tige landskappe lei, het die deelnemers waarskynlik nie altyd die tyd en energie om dit te waardeer nie weens die moeilikheidsgraad van die roete!         (Foto verskaf.)

Bergfietsryers ry teen een van die styl opdraandes uit tydens verlede jaar se Attakwas Extreme Bergfietsren oor 121 km wat 2 900 meter se klimwerk insluit. Hoewel die roete deur skilderag-tige landskappe lei, het die deelnemers waarskynlik nie altyd die tyd en energie om dit te waardeer nie weens die moeilikheidsgraad van die roete! (Foto verskaf.)

Deur Schalk le Roux
VANJAAR se Attakwas Extreme Bergfietsbyeen-koms wat Saterdag tussen Oudtshoorn en Groot Brakrivier plaasvind, het die meeste deelnemers nog gelok, naamlik 1 400, onder wie van die wêreld se top berg­fietsryers.
Die ren – die volledige naam is die Momentum Health Attakwas Extreme – presented by Biogen, begin Saterdagoggend 06:30 op die Chandelier Wildplaas net suid van Oudtshoorn en eindig 121km verder by Pine Creek Vakansieoord by Groot Brakrivier.

Van Chandelier lei die roete met tweespoorpadjies tot waar dit die Mosselbaaipad (R328) sowat 35 km buite Oudtshoorn kruis. Van daar durf die ryers die hange van die Outeniquaberge met die Attakwaskloof langs aan, oor die berg tot by die Bonniedale Vakansieplaas.

Van Bonniedale volg die roete ’n grondpad met ’n paar stywe opdraendes totdat dit weer die R328 naby Eight Bells Country Inn kruis op pad na Pine Creek.

Die Extreme se uitmergelende roete met tegnies uiters moeilike gedeeltes, sluit 2 900 meter se klim-werk in!
Die Spur Atta Mini vorm ook deel van die byeenkoms. Die Mini se roete begin en eindig by Pine Creek en is 51 km lank met 1 100 m se klim.

• Die eerste Attakwas het in 2007 plaasgevind met 161 fietsryers wat toe deelgeneem het. Van dié ryers is daar nege wat al elf renne tot dusver voltooi het en vanjaar weer vir die ren aantree.

• Die Attakwas Extreme se prysgeld is R25000 vir die mans- en vrouewenner. Maar nog belang­riker vir die topdeelnemers is die UCI-punte wat hulle kan insamel vir die Wêreld Marathonkampioenskapsreeks.

Die internasionale topryers wat Saterdag vir die Attakwas aantree, sluit in verlede jaar se gesamentlike wenners, Karl Platt en Tim Böhme, van Team Bulls. Platt was in 2014 ook tweede toe Urs Huber die ou rekord aan flarde gery het in ’n tyd van 4 uur 40 min 6 sek wat nou nog staan. Vir die rekord om verbeter te word, sal die weer moet saamspeel.
Dit gaan ook interessant wees om te sien hoe die Franse ryer Antonin Marecaille, Frankryk se 2017 XCM-kampioen, op sy eerste uitstappie na Suid-Afrika gaan vaar.

Onder die top Suid-Afrikaanse ryers is Matthys Beukes, ’n ou bekende op Oudtshoorn, en Philip Buys (albei van Pyga EuroSteel). Hulle het verlede jaar ’n uitstekende jaar gehad.

Onder die top vroueryers wat ingeskryf het is Ariane Luthi (Team Spur) wat die vroue-afdeling van die Attakwas al vyf keer gewen het. Haar taaiste teenstand word verwag van Jennie Stenerhag, Robyn de Groot, Sabine Spitz, Carmen Buchacher, Andy McDougall en Candice Lill.

Yolande de Villiers van Oudtshoorn, wat die eerste Attakwas voltooi het, neem ook weer deel, en behoort ook onder die voorste ryers te eindig.

Ander bergfietsryers van Oudtshoorn wat aan die Attakwas Extreme gaan deelneem, is Vaughn Shone (45), Theunis Botha (50), Jan-Paul Gerber (28), Errol Pretorius (61), Johan Griffioen (47), Kobus en Fienie Barnard (40), Anru de Wet (44) en Jaco von Molendorff (43). Vir die Atta Mini gaan aantree Charlissa Schultz (15), Pieter Willem de Jager (51), Pieter de Jager (16), Christo de Jager (16), Lewellyn Harris (52) en Willemien van Tonder (30).