Oupa en kleindogter finaliste!

Deur Higgo Jacobs
Japie Coetzee en sy kleindogter, Jada Coetzee, is onder die talle Oudtshoorniete wat vanjaar finaliste is vir die Eden Sportraad se sporttoekennings vir 2018.

Dié glansgeleentheid vind op Vrydagaand, 27 Julie, op Oudtshoorn plaas.

Coetzee is ’n finalis in die kategorie Lewens­presteerder: Rugby, en Jada in die kategorie Laerskole Sportvrou.
Ashwin Willemse, oud-Springbok-rugbyspeler en sportkommentator, sal die aand die gasspreker wees.

’n Rekordgetal van 191 benoemings in 31 kategorieë van 30 sportfederasies is ontvang. Die finaliste is uit dié benoemings aangewys.

Oudtshoorniete wat as finaliste vir dié spogtoekennings aangewys is, is • Corné Bence (Administrateur: Eden Fietsry); • Gerhard Isaacks en Cornelius Julies (Plaaswerkers); • Burger van der Westhuizen (Nuweling: Motorsport); • Janine Kotze (Tegniese Uitnemendheid: Pluimbal) en Corné Botha (Tegniese Uitnemendheid: Fietsry); • Jean du Plessis (Junior Sportman: Krieket); • Garnett Wi­comb (Meestersportman: Tennis en Legende); • Elma Davis (Sport­vrou: Rolbal); • Yvonne McKay (Vrywilliger: Tweekamp); • Strui­sies Trompoppies (Skoolspan); • Jacquine Strydom (Hoërskole Sportvrou: Skopboks); • Bridgton Fiets­ryspan (Ontwikkelingskoolspan); • Errol Pretorius (Legende: Fietsry); • Nico du Bois en Koos Nel (Ererol).

Een van Die Hoorn se vryskut-fotograwe,  Ebenezer Titus, is ’n finalis in die afdeling vir sportfotografie.

Sportprestasies tussen 1 September 2017 en 22 Junie 2018 is vir die toekennings in ag geneem. Die wenners van kategorieë word outomatiese finaliste vir die Wes-Kaapse Sporttoekennings wat op 25 Augustus vanjaar plaasvind.