Oudtshoorniete skitter by 13de 36One MTB Challenge

Bo: Yolande de Villiers pas oor die wenstreep. Foto’s: Oakpics Photography Onder: Bert Verlinde het 4de algeheel geëindig. Foto’s: Oakpics Photography

Verskeie Oudtshoorniete het verlede naweek aan die 13de uitdagende 360ne MTB Challenge, wat Vrydagmiddag by Kleinplaas op Oudtshoorn begin het deelgeneem.

Sowat 400 fietsryers het deelgeneem aan die twee afstande as individue of spanne.

Die eerste en moeilikste uitdaging is die 361 km, waar die ryers 36 ure het om die afstand af te lê.

Die tweede kategorie is die 189 km, wat net so uitdagend is.

Bert Verlinde, ’n bekende in plaaslike besigheidskringe, was 4de oor die wenstreep met ’n fantastiese tyd van 14 uur en 39 minute in die 361km afstand.

Oudtshoorn se ystervrou, Yolande de Villiers was die wenner in die dames afdeling en ook 5de algeheel. Yolande het die 361 km in ’n tyd van 15 ure en 35 minute afgelê.

Hans van der Veen het die lang afstand suksesvol voltooi in ’n tyd van 21 uur en 2 minute in die 56ste posisie.

Dit is ’n groot prestasie vir enigeen wat weet hoe moeilik en uitdagend die roete is, veral in die vroeë oggendure wanneer die koue begin byt.

Nog Oudtshoorniete wat deelgeneem het was Hein en Liesl Jonker, asook Anru de Wet en Johan Neethling.

Baie geluk aan elkeen wat aan hierdie fietswedren deelgeneem het en dit suksesvol voltooi het. Die algehele wenner wat die 1ste plek ingepalm het, was Freddie Visser met ’n tyd van 13 ure en 57 minute. (Deur Angelique Erasmus)

Bo: Hans van der Veen vier sy suksesvolle voltooiing. Foto: Pieter van der Walt

Bo: Die pragtige roete van die 36One deur die Klein Karoo. Foto’s: Oakpics Photography