Die belowende buitesenter, Jean de Kock, het verlede Saterdag vir die Luiperds se o.21-rugbyspan teen die Sharks op Kingspark, uitgedraf.
Jean was ’n leerder van die Hoër Landbouskool Oakdale en het in 2022 gematrikuleer. In 2023 het hy by die Universiteit van Potchefstroom se Rugby Instituut aangesluit en is tans besig met sy tweede jaar as onderwysstudent. Jean is die seun van Johnny en Jo-marie de Kock.
Volgens sy rugbyafrigter in Potchefstroom, Burger van der Westhuizen, is Jean vanaf skrumskakel na senter geskuif waar hy in die afgelope wedstryd vir die Luiperds gespeel het.
“Dit is vir seker vir hom ’n aanpassing, maar met harde werk gaan hy definitief ’n mooi toekoms op die senterposisie hê”, het Van Der Westhuizen aan Die Hoorn gesê.
Hannes Esterhuizen, die afrigter van die o.21 Luiperds-span sê dat hy baie beïndruk is met Jean se werksetiek en toewyding.
“Ons het hom geskuif vanaf skrumskakel na senter, maar die manier waarmee Jean hierdie skuif hanteer het, asook sy toewyding om te leer en hard te werk, gaan vir hom nog baie deure oopmaak”. (Lindi Brill)
Oudtshoorniet draf uit teen Sharks
Bo: Jean de Kock van Oudtshoorn, in aksie. De Kock het verlede Saterdag vir die Luiperds se o.21-span teen die Sharks gespeel. Foto: Verskaf