Oudtshoorn Toutrekklub vier nasionale sukses

Foto verskaf.

Oudtshoorn Toutrekklub het hul merk gemaak op die nasionale verhoog tydens die Suid-Afrikaanse Toutrekkampioenskappe wat op 17 en 18 Julie in Helderberg plaasgevind het. Met ’n reeks indrukwekkende prestasies het die klub nie net hul eie naam hoog gehou nie, maar ook die Eden-streek met trots verteenwoordig.

Die eerste dag van die kampioenskappe het reeds belowende resultate opgelewer. Die 500 kg-vrouespan het ’n uitstekende tweede plek behaal en sodoende ’n silwermedalje ingepalm. In die mansafdeling het die 600 kg-span hul dominansie gewys deur eerste plek in die President-afdeling te verower, terwyl ’n tweede Eden-span ook sterk vertoon het met ’n derde plek in dieselfde afdeling.

Die junior spanne het hul deel gedoen om die medaljetelling aan te vul. In die 560 kg-juniorafdeling het Eden A goud gewen, terwyl Eden B met ’n bronsmedalje weggestap het. In die 680 kg-mansafdeling het Eden A tweede geëindig, met Eden B en Eden C wat onderskeidelik tweede en derde plekke in die President-afdeling behaal het. Die 560 kg o. 23-gemengde span het ook ’n podiumplek verseker met ’n derde plek.

Die tweede dag het die klub se momentum voortgesit. In die sterk mededingende 580 kg-gemengde afdeling het vier Eden-spanne deelgeneem.

Eden A het tweede geëindig, terwyl Eden B eerste plek in die President-afdeling behaal het. Eden C en Eden D het onderskeidelik derde en vierde plekke behaal, wat die klub se diepte en breë talentbasis onderstreep.

Verdere noemenswaardige prestasies sluit in die 500 kg o. 23-vrouespan se derde plek in die President-afdeling, asook die 600 kg o. 23-spanne wat waardevolle ondervinding opgedoen het met vierde plekke in hul onderskeie afde-lings.

Die 640 kg-manspan het die kampioenskap afgesluit met ’n sterk derde plek.

Die hoogtepunt van die naweek was sonder twyfel die 540 kg-vrouespan wat goud gewen het en as Suid-Afrikaanse kampioene gekroon is. Hierdie prestasie is ’n bewys van die klub se harde werk, dissipline en toewyding.

Oudtshoorn Toutrekklub het hul dank uitgespreek teenoor afrigters, borge, ouers en ondersteuners wie se volgehoue ondersteuning ’n groot rol in hierdie sukses gespeel het. Die klub kan met reg trots wees op hul prestasies en sien met groot verwagting uit na toekomstige kompetisies.

Be the first to comment on "Oudtshoorn Toutrekklub vier nasionale sukses"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*