Die Oudtshoorn Toutrek Klub het gedurende die naweek van 5 en 6 Junie uitstekende prestasies gelewer tydens die Suid-Afrikaanse Klub-kampioenskappe wat in Bloemfontein aangebied is.
Die klub het hom weereens as een van die land se voorste toutrekklubs bewys deur sterk teenstand van regoor Suid-Afrika die hoof te bied.
Altesaam agt spanne het die klub by die kampioenskappe verteenwoordig. Dit het bestaan uit twee 600 kg-spanne, twee 640 kg-spanne, twee 680 kg-spanne, ’n 580 kg gemengde span en ’n 600 kg o. 23-span.
In die 600 kg-afdeling het die A-span ’n verdienstelike vyfde plek behaal, terwyl die B-span die kompetisie in die sewende plek afgesluit het. Die 640 kg A-span het ook sterk vertoon en vyfde geëindig, met die B-span wat sesde plek behaal het. Hierdie afdeling het terselfdertyd as die President-afdeling gedien, waar die Oudtshoorn-klub met trots goue en silwer medaljes verower het.
Die klub se 680 kg-spanne het eweneens hul staal gewys. Die A-span het net-net ’n podiumplek misgeloop en vierde geëindig, terwyl die B-span sesde plek behaal het. In die President-afdeling is die span se uitstekende vertoning met ’n silwer medalje beloon.
Een van die hoogtepunte van die kampioenskappe was die vertoning van die 580 kg gemengde span, bestaande uit vier mans en vier vroue. Die span het besonder goed meegeding en ’n uitstekende vierde plek uit 12 deelnemende spanne behaal. Hulle het slegs met ’n klein verskil ’n plek op die podium misgeloop.
Die 600 kg o. 23-span het ook groot indruk gemaak. Vyf van die spanlede is leerders van 15 en 16 jaar oud van Langenhoven Gimnasium. Ten spyte van hul jeug en beperkte ervaring teen ouer teenstanders, het hulle ’n indrukwekkende vyfde plek behaal.
Die klubbestuur het hul trots uitgespreek oor die atlete se harde werk, toewyding en sportmangees.
Hierdie prestasies bevestig die groei en ontwikkeling van die Oudtshoorn Toutrek Klub en beklemtoon hul status as een van Suid-Afrika se sterkste en mees mededingende toutrekklubs.
Baie geluk aan al die deelnemers, afrigters en ondersteuners wat hierdie suksesvolle naweek moontlik gemaak het. (GRANWILLE GOLAITH)
Oudtshoorn Toutrek Klub blink uit by SA Klubkampioenskappe
Foto verskaf.