Oudtshoorn Sportinisiatief amptelik op die been

Van die lede van die Oudtshoorn Sportinisiatief se interim-bestuur is voor van links Dave van der Walt, Wilma Pienaar en Delia van Biljon. Agter van links is Hans van der Veen, Stephan Henrico en Corné Botha. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Oudtshoorn Sportinisiatief (OSI), ’n organisasie wat hoofsaaklik daarop wil fokus om Oudtshoorn weer as “Sport Mecca” in die streek en provinsie te vestig, is Woensdagaand (7 Junie) amptelik op die been gebring met beide ’n grondwet en interim-bestuur wat onderskeidelik aanvaar en ingestem is.

Die OSI se Dave van der Walt het ook ’n beroep op alle sport-klubs en -kodes wat moontlik in die Groter Oudtshoorn-omgewing bestaan gemaak om deel te raak van die organisasie sodat sport hier bevorder kan word en atlete en sportlui bygestaan kan word op verskeie vlakke.

Selfs sogenaamde ondersteunings-dienste, soos byvoorbeeld restaurante, gastehuise, hotelle en ander besienswaardighede word gevra om betrokke te raak, omdat – volgens Van der Walt – hierdie instansies bydra tot suksesvolle sporttoerisme op die dorp en die aanbieding van suksesvolle byeenkomste wat positiewe finansiële gevolge vir die dorp kan inhou. Besoek oudtshoornsport.co.za. (Deur Stefan Skapie Goosen)