Die Oudtshoorn Jukskeiklub het Saterdag die Charles Uys Opedag by die De Jagers Sportkompleks aangebied. Sestien spanne van verskeie streke het deelgeneem aan die jukskei-aksie.
Die toernooi het goeie ondersteuning geniet en die gehalte van spel in al die afdelings was van ’n hoë standaard.
In die A-afdeling het die Bossie-span die kompetisie oorheers en met die eerste plek weggestap na ’n reeks sterk vertonings.
Die JJJT-span het goed meegeding en moes tevrede wees met die tweede plek.
Die B-afdeling het spannende wedstryde opgelewer, met Hartenbos wat uiteindelik as wenners gekroon is. Die tuisspan, Oudtshoorn, het dapper geveg en die tweede plek behaal tot groot vreugde van plaaslike ondersteuners.
In die C-afdeling het Danabaai al drie podiumplekke ingepalm. Danabaai 3 het in die eerste geëindig, gevolg deur Danabaai 2 in die tweede plek en Danabaai 1 wat derde plek behaal het.
Die D-afdeling het ook vir interessante uitslae gesorg. Oudtshoorn 2 het hul tuisveldvoordeel benut en met die eerste plek weggestap.
Thembalethu het ’n stewige toernooi beleef en die tweede plek verower, terwyl Oudtshoorn 1 die derde plek ingeneem het.
Die toernooi is gekenmerk deur goeie sportmanskap, spansamewerking en ’n sterk gemeenskapsgees.
Organiseerders het hul tevredenheid uitgespreek oor die verloop van die dag en die groot belangstelling wat getoon is.
Die suksesvolle opedag beloof ’n opwindende jukskei-seisoen wat voorlê, en spelers en ondersteuners sien reeds uit na die volgende byeenkoms. (GRANWILLE GOLIATH)
Oudtshoorn Jukskeiklub hou suksesvolle opedag
Foto: Granwille Goliath