Suid-Afrikaanse Trompoppiekampioenskap

Die lede van die SWD Majorette & Cheerleading Association se reëlingskomitee vir die nasionale trompoppiekampioenskap wat die einde van volgende week op Oudtshoorn afskop, is voor van links Lynette Sabbad, Felicia du Toit, Deidre Bisschoff, Megan Presher, Alicia Booysen en Colleen Petersen. Agter van links is Johnny Bisschoff, Linda Marques, Annelise Nell, Lynne Petersen, Jonathan Wicomb and Ronald Presher. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN is gereed om Suid-Afrika se top-trompoppiespanne, hul spanbestuurders, afrigters en familielede by vanjaar se nasionale trompoppiekampioenskap op die dorp te ontvang!
Dit is die boodskap van die Oudtshoorn-reëlingskomitee vir dié opwindende nasionale kampioenskap van die South African Majorette and Cheerleading Association (SAMCA) wat van 30 Junie tot 7 Julie op die Rec plaasvind.
Dit is vanjaar presies 10 jaar nadat Oudtshoorn in 2008 ook die gasheer was van ’n baie suksesvolle nasionale trompoppiekampioenskap met inwoners wat in groot getalle die skouspel vanaf die pawiljoen op die Rec meegemaak het.
Slegs die topspanne in die land kwalifiseer jaarliks vir deelname aan die “nationals”, soos die kampioenskap allerweë bekend staan.
Volgens Johnny Bischoff, hoof van die Laerskool Van Reede en voorsitter van die SWD Majorette and Cheerleading Association, word altesame 2 500 trompoppies op Oudtshoorn verwag, saam met 200 afrigters, 300 spanassistente en 70 beamptes, waaronder 57 beoordelaars en verteenwoordigers van SAMCA .
Die Cheerleading-afdeling sal op Saterdag 30 Junie plaasvind met die Majorette-afdeling wat die Sondag afskop. Van Sondag tot Dinsdag sal die Presidentsliga beslis word, Dinsdagaand vind die interprovinsiale kompetisie plaas en van Woensdag tot Saterdag die Elite-afdeling.
Verskeie plaaslike spanne het vir die kampioenskap gekwalifiseer. Die trompoppies van die Hoërskool Oudtshoorn, Laerskool van Reede en Sacred Heart Primêr neem in die Elite-afdeling deel, terwyl die trompoppies van Bridgton Sekondêr, Hoërskool Môrester, Hoërskool De Rust en Colridge Primêr in die Presidentsliga sal deelneem.
Die vernuf en vaardigheid van die trompoppies trek altyd baie toeskouers en daar word verwag dat sowat 6 000 mense oor die week dié kampioenskap sal bywoon.