Oudtshoorn is weereens die trotse aanbieder van die 14de Interdistrik Fietsrykampioenskappe van 4 – 6 Julie.
Die kampioenskappe word deur die Eden Fietsry Assosiasie aangebied, en vorm ook deel van die Oudtshoorn Munisipaliteit se Sportfees met die ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement van Sport en Kultuur.
Dit is die enigste kampioenskappe van die aard in Suid-Afrika, en fietsryers van al 9 die provinsies kom hieraan deelneem.
Hierdie toernooi is ’n groot aanwins vir die dorp, aangesien dit tydelike werksgeleenthede vir die inwoners van Oudtshoorn voorsien, asook al die deelnemers en hul families wat die ekonomie in die dorp ’n hupstoot gee met hul teenwoordigheid tydens die 3 dae.
Die eerste skof het Donderdag, 4 Julie by die Ovaalbaan plaasgevind. Op Vrydag, 5 Julie spring die fietsryers om 09:00 weg vir die Kriterium toets by die VGK-kerksaal in Bonteboklaan, Bridgton.
Saterdag gaan die span-tydtoetse by Highgate om 09:00 afskop, om 13:00 gaan die padresies plaasvind en die finale prysuitdeling gaan om 16:00 wees.
“Hierdie is die 14de jaar wat die kampioenskappe plaasvind en dit is die enigste een van sy soort in Suid-Afrika. Ons is baie dankbaar teenoor Fietsry Suid-Afrika wat vir ons die geleentheid gegee het om hierdie gebeurtenis in ons dorp te kan aanbied”, het Corné Bence, voorsitter van Weskaap Fietsry en die President van die Eden Fietsry Assosiasie gesê.
Bence het ook sy dankbaarheid teenoor die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Wes-Kaapse Departement van Sport en Kultuur uitgespreek vir hul ondersteuning en bystand. (Deur Lindi Brill)
Oudtshoorn gerat vir die 14de SA-fietsrykampioenskappe
