OSI mik na ’n miljoen vir sportfailiteite

Die pawiljoen by die NA Smit swembad wat van ’n dak voorsien moet word. Foto verskaf

Oudtshoorn Sport Inisiatief (OSI) het die bul by die horings gepak om die pawiljoen by NA Smit-swembad van ’n dak te voorsien en elektro-nies tydparaat vir die De Jager-atletiekbaan aan te skaf.
OSI is meer as ’n jaar gelede in die lewe geroep om alle sportkodes in die Groter Oudtshoorn te bevorder en laat saamwerk.

Een van hulle eerste projekte was om die ablusiefasiliteite by die NA Smit-swembad op te gradeer sodat groot gala- en tweekampbyeenkomste weer hier aangebied kan word.

Nou het OSI ’n baie groter mikpunt. Nadat die munisipaliteit onlangs nuwe wegspringblokke en elektroniese raakpunte by die swembad aangebring het, wil OSI ’n stewige en duursame dak oor die pawiljoen oprig.

Met die onlangse Highgate-tweekamp was die organiseerders beїndruk met die waterkwaliteit en die toerusting by die swembad, maar toeskouers moes die son trotseer.

Wilma Pienaar van OSI het hierdie week gesê Oudtshoorn lok jaarliks duisende mense vir sportbyeenkomste en dit is belangrik dat sportlui toegang tot moderne toerusting het.

“Ons het ’n landwye kompetisie geloods om geld in te samel vir die oprigting van die dak asook die aankoop van elektroniese tydaparaat by die tartanbaan. Die dak gaan ons ongeveer R250 000 kos en die koste van die elektroniese apparaat vir die atletiekbaan ten minste R600 000.”

Loterykaartjies vir die kompetisie beloop R250 en die prys is ’n Klein Karoo-vakansie van sewe dae vir vier persone ter waarde van R70 000.

Besonderhede en inskrywings vir die kompetisie, Best of Oudtshoorn, is op Webtickets beskikbaar. Vir enige navrae skakel Wilma Pienaar by 060 504 9105. (HANNES VISSER)