Fienie en Kobus Barnard van Oudtshoorn, voorlopers in die gemeng-de afdeling van die Cape Pioneer Trek, wens mekaar geluk aan die einde van Maandag se eerste skof. Foto: zcmc.co.za
Die Cape Pioneer Trek, ’n multiskofbergfietsren oor sewe dae, is in volle swang met die taai vierde skof deur onder meer die Kammanassie-gebied wat vandag (Donderdag, 12 September) plaasvind.
Die skof oor 101 km wat klimwerk van 1950 meter insluit, begin vanoggend by Louvain Gasteplaas naby Herold aan die noordelike hange van die Outeniquaberge vanwaar die roete deur die Kammanassieberge kronkel voordat dit by Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn eindig. (Die uiters uitdagende Kammanassieskof was die vorige paar jaar nie deel van die Cape Pioneer Trek nie.)
Altesame 380 deelnemers, onder wie top-fietsryers van Suid-Afrika en agttien ander lande, neem aan vanjaar se Cape Pioneer Trek (CPT) deel.
Die CPT het Sondag met die 11,1km lange proloog by die Laerskool Milkwood op Mosselbaai begin en geëindig.
Die eerste skof Maandag oor 97 km wat 1950 m se klimwerk insluit, het by Milkwood begin, ’n draai deur die Gondwana Private Natuurreservaat gemaak en weer by Milkwood geëindig.
Die tweede skof Dinsdag se roete was 114 km lank wat 2500 m klimwerk ingesluit het. Dit het by Milkwood begin en sluit ’n stuk strand en die woude suid van die Outeniquaberge in voordat dit by die Van Kervelskool op George geëindig het.
Gister se skof oor 76 km wat 1790 m se klimwerk insluit, het by Van Kervel begin, oor die Outeniqua-berge gelei en by Louvain Gasteplaas geëindig.
Môre se skof, wat ’n hoogtepunt is, begin by Langenhoven Gimnasium en eindig by die hoogste punt van die Swartbergpas. Die roete is 84 km lank en sluit klimwerk van 2200 m in. Dié skof bied aan belangstellendes die geleentheid om die deelnemers dop te hou terwyl hulle die Swartbergpas aandurf.
Die sesde en laaste skof begin op Chandelier Volstruis- en Wildplaas en eindig voor die Queen’s Hotel in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn waar toeskouers kan kom kyk as die wenners oor die eindstreep jaag. Die skof is 65 km lank en sluit klimwerk van 1150 m in.
Twee Oudtshoorniete, Kobus en Fienie Barnard, loop ná gister se skof algeheel voor in die gemengde afdeling in ’n tyd van 15:04:35. Hulle het ook gister se skof in ’n tyd van 3:52:39 gewen.
Nog ’n Oudtshoornfietsryer, Yolandé de Villiers, wat in Mei ernstig beseer is tydens die Build It Trek2-Teebusberg-fietswedren, het haar terugkeer tot fietsry gemaak met vanjaar se CPT.
Sy en haar spanmaat, Kevin Taljaard, lê ná gister algeheel tweede in die gemengde afdeling in 15:37:25. Hulle was ook in gister se skof tweede in 3:55:30.
Anru de Wet van Oudtshoorn lê ná gister se skof 44ste in die solomansafdeling.
David Higgs, bekende sjef en restauranteur wat verbonde is aan die TV-program My Kitchen Rules, neem vanjaar ook deel.