Munisipaliteit skenk R20 000

Personeelede van die Klein Karoo Vereafde­ling op Oudtshoorn het Loslitdag verlede Vrydag met oorgawe gevier! Foto verskaf

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het vroeër vandeesweek ’n donasie van R20 000 oorhandig aan die Suid-Afrikaanse Tafeltennisfederasie.

Die nasionale Tafeltenniskampioenskap vind vanjaar vir die eerste keer in Oudtshoorn plaas, wanneer dit van 22 tot 28 September 2019 by die De Jager Sportkompleks gespeel word.

Die waarnemende burgemeester, Noluthando Mwati, het die federasie die week gekomplimenteer met hulle werk, en veral die feit dat hulle so baie investeer in jong spelers.

“Indien meer jongmense blootgestel kan word aan sport, kan dit help om die misdaadsyfer in ons gemeenskappe te verlaag,” het sy gesê.

“Hierdie geleentheid is histories en ons is bly om dit in Oudtshoorn te kan aanbied,” het die voorsitter van die Eden Tafeltennisfederasie, Garshen Williams, by die tjekoorhandiging gesê. Die oorhandiging is deur van die raadslede bygewoon.

Volgens Williams sal spelers van al nege provinsies sowel as spelers vanaf Botswana meeding.
Meer as 800 jong spelers sal die geleentheid bywoon.

Mwati het alle deelnemers voorspoed toegewens met woorde van Nelson Mandela: ’n Wenner is ’n dromer wat nooit tou opgooi nie.

“Hierdie geleentheid bring die groter Suid-Afrika na die Groter Oudtshoorn,” het sy bygevoeg.