Die Neppon Warriors is tans boaan die punteleer van die Groter Oudtshoorn Domino-Unie ná twee oortuigende oorwinnings en twee bonuspunte wat hul posisie verder verstewig het.
Met die Summer Cup wat op 8 Februarie 2026 afgeskop het, wys die Warriors vroeg reeds hul voorneme om vanjaar ’n ernstige aanspraakmaker op die titel te wees.
Altesaam 11 spanne neem aan vanjaar se Summer Cup van die Domino-Unie deel. Die kompetisie het reeds groot opwinding ontketen, met ondersteuners wat elke wedstryddag in groot getalle opdaag om hul gunsteling-spanne aan te moedig.
Dominos het sy oorsprong as ’n ontspanningspeletjie gehad wat families gespeel het wanneer hulle bymekaar gekom het. Met verloop van tyd het dit egter só gewild geraak dat dit vandag as ’n inheemse sport beskou word, met georganiseerde ligas en toernooie wat deur die jaar aangebied word.
Een van die hoogtepunte op die unie se kalender is die jaarlikse Speaker-dagtoernooi, aangebied deur Suzane Jansen. Die toernooi het weer eens groot belangstelling gelok, met spanne wat vir eer en aansien meegeding het. Lazers het as wenners uit die stryd getree, terwyl Smartie Town Giants tweede geëindig het en Duduza die derde plek ingeneem het.
Die toernooi het hom nou gevestig as ’n jaarlikse instelling en sal voortaan elke Desember plaasvind. Die prysuitdeling vir die toernooi wat in Desember verlede jaar gespeel is, word hierdie Saterdag (21 Februarie) gehou.
Intussen het Sondag se ligawedstryde weer gewys hoe mededingend die kompetisie vanjaar is. Tornados het Vikings met 76–57 geklop, terwyl Neppon Warriors hul goeie vorm voortgesit het met ’n oortuigende 82–55 oorwinning oor Rebels. Challengers het Eagles met 73–53 verslaan, en Lazers het hul stempel afgedruk met ’n 81–51 sege oor Smartie Town Giants. In ’n spannende kragmeting het Mighty Warriors vir Golden Stars met 70–60 geklop.
Met nog vele wedstryde wat voorlê, kan ondersteuners uitsien na ’n seisoen vol aksie, spanning en strategiese meesterskap op die domino-tafel. (GRANWILLE GOLIATH)
Neppon Warriors boaan punteleer van die Groter Domino-Unie
Foto: Granwille Goliath