Bergfietsryers Saterdagvroegoggend op die roete van die 36One Bergfietsren nadat hulle die vorige aand om 18:00 by Kleinplaas op Oudtshoorn begin het. Die bergfietsren se roete is 361 km lank, die sirkulroete gaan deur 360 grade en die deelnemers het 36,1 uur om dit te voltooi. Foto: ZC Marketing Consulting

Ramses Bekkenk voltooi die 36One Bergfietsren nadat hy deurnag gery het om 361 km in 13:48:53 te voltooi.
Deur Schalk le Roux
DIE Nederlander Ramses Bekkenk het Saterdagoggend die 36One Bergfietsren, wat by Kleinplaas op Oudtshoorn begin en 361 km later weer daar geëindig het, die derde jaar agtereenvolgens gewen in ’n rekordtyd van 13 uur 48 min en 53 sek.
Die vroue-afdeling is deur Fienie Barnard van Oudtshoorn gewen in ’n tyd van 17:12:25.
Die 36One, aangebied deur Dryland Event Management, is ’n uitdagende ren wat Vrydagaand om 18:00 begin het. Dit volg ’n sirkelroete van 360 grade om Oudtshoorn met talle steil opdraandes wat klimwerk van 5 285 meter insluit.
Die roete sluit in die grondpad na Schoemanshoek, die Oude Muragiepad, Dysselsdorp, die Kammanassieomgewing, die voetheuwels van die Outeniquaberge, Volmoed, die Paardebontpad, die Rooibergpas, Calitzdorp en die Groenfontein- en Lategansvleipad, terug na Oudtshoorn.
In die afloskategorie het Oudtshoorn-spanne goed gevaar. In die tweemanaflos was Jacques van Staden en Marchal Hendricks (Cycle4Diabetes) eerste in 15:03:28.
Die span Yolande bestaande uit Wynand Mulder, Gerrie Beukes, Johan Labuschagne en Tyrone van Rooyen het die viermanaflosafdeling gewen in 13:56:22. Hulle het gery ter ondersteuning van Yolande de Villiers wat onlangs ernstig tydens ’n fietsren beseer is.
Die Cycle Addict-span, bestaande uit Serfie Serfontein, Pierre Terblanche, Vusi Mareneni en Immanuel Becker was in 14:34:51 tweede in dié afdeling met die Wildehonnespan bestaande uit Ludwig Swanepoel, George Nel, Johan Fourie en Jurie Kruger derde in 14:34:51.
Die SANW-aflosspan bestaande uit Hans van der Veen, Warren Tidbury, Fanus Eksteen en Carl Schmitt was in ’n tyd van 15:56:13 vyfde.
Die Oudtshoornryers wat die solo-afdeling oor 361 voltooi het, is Braam Wannenburg (17:12:29), Ciska Terblanche (27:38:18) en Neels Terblanche (27:38:17).
Robert du Preez het die solo-afdeling oor 180km in 11:47:18 voltooi.
Die Cheetah Guys van Oudtshoorn bestaande uit Brian Lennox, Hugo du Plessis, Francois Verwey en
Pieter de Jager het ook die aflosafdeling voltooi,
• Indien enige fietsryers van Oudtshoorn wat die bergfietsren voltooi het, se name uitgelaat is, laat weet gerus sodat ons dit volgende week kan plaas.