Mylpale by Parkrun

Newald Groenewald wat Saterdag sy 173 ste Parkrun voltooi het, saam met sy vrou, Elisabeth, wat haar 100ste voltooi het.

Deur Garnett Wicomb
TWEE mylpale is by Saterdag se 175ste Oudtshoorn Parkrun bereik. Johann Coetzer het sy 150ste en Elisabeth Groenewald haar 100ste Parkrun voltooi.

Yaron Venter was eerste in 21 min 29 sek, Ne-wald Groenewald (22:32), wat sy 173ste Parkrun voltooi het, tweede en Angelo de Villiers van Mitchell’s Plein derde in 22:54. Wendy Roux was die eerste vrou by die eindpunt en die 15-jarige Daniel de Jager die eerste junior.

Twee Italianers, Andre Rossi en Glenda Guzzi van Florence, Italië, het ook Saterdag deelgeneem.

• Saterdag, 1 September, se Parkrun beloof volgens Hestia Burger, een van die koördineerders, om vol pret te wees. Talle pryse is in gelukkige trekkings op die spel, terwyl die lente met blomme, ballonne, koeldrank en eetgoed gevier sal word.

Burger het deelnemers versoek om vrolik aan te trek terwyl sy ook diegene wat nog nie deel van die pretloop is nie, genooi het om te kom aansluit.

Die Oudtshoorn Parkrun word elke Saterdag-oggend by die Surval Olyflandgoed noord van Oudtshoorn aangebied. Die winterwegspringtyd is 08:00. Daar is geen inskrywingsgeld en ook geen ouderdomsbeperking nie.