Moonlight FC het hul naam in die geskiedenisboeke van plaaslike sokker geskryf nadat die span die 2025/2026 SAFA Eden Hollywoodbets Streeks Liga-titel verower het. Die prestasie bevestig die Dysselsdorp-gebaseerde klub as die sterkste span in die Eden-streek en plaas hulle nou op die drumpel van moontlike bevordering na die ABC Motsepe Liga.
Moonlight het die seisoen bo-aan die punteleer afgesluit met ’n indrukwekkende 75 punte uit 34 wedstryde. Die span het 23 oorwinnings behaal, ses keer gelykop gespeel en slegs vyf nederlae gely. Hul aanvallende spel was deur die seisoen een van hul grootste sterk punte, met 91 doele aangeteken en net 45 afgestaan.
Die kampioenskap is op die laaste wedstryddag op oortuigende wyse beklink. In hul eerste wedstryd teen FC Rebels het Moonlight van die begin af oorheers. Teen rustyd het die span reeds met 5-0 voorgeloop voordat hulle die wedstryd met ’n verpletterende 8-0 oorwinning afgesluit het.
In die tweede wedstryd van die dag het Moonlight teen Smuts United te staan gekom. Hoewel albei spanne vasberade was om die seisoen sterk af te sluit, het die wedstryd uiteindelik met ’n 3-3 gelykopuitslag geëindig. Die punt was egter genoeg om Moonlight as die amptelike kampioene van die SAFA Eden Hollywoodbets Streeks Liga te kroon.
Volgens klubvoorsitter, Keanan du Plessis, is die titel die resultaat van jare se harde werk, opoffering en deursettingsvermoë deur spelers, afrigters, bestuur, ondersteuners en die breër gemeenskap.
“Hierdie prestasie behoort aan elke persoon wat in Moonlight FC geglo het. Die klub het uitdagende tye beleef, maar ons het saamgestaan en aangehou werk. Vandag vier ons nie net ’n titel nie, maar die vrugte van jare se toewyding,” het hy gesê.
Die klub se aandag verskuif nou na die volgende groot uitdaging wanneer hulle op 4 en 5 Julie in Gansbaai aan die SAFA Wes-Kaap Provinsiale Uitspele deelneem. Daar sal die streekskampioene van ses streke teen mekaar meeding vir ’n plek in die ABC Motsepe Liga, die derde hoogste vlak van sokker in Suid-Afrika.
Du Plessis het beklemtoon dat die sukses nie net aan die klub behoort nie, maar aan die hele Dysselsdorp-gemeenskap. Hy het ook ’n beroep op die plaaslike sakegemeenskap gedoen om die klub finansieel en prakties te ondersteun terwyl hulle hul droom van bevordering nastreef.
Met die kampioenskapstrofee veilig in hul besit en groot uitdagings wat voorlê, staan Moonlight FC nou gereed om die naam van Dysselsdorp met trots op die provinsiale verhoog te verteenwoordig en moontlik die volgende stap in hul merkwaardige sokkerreis te neem. (GRANWILLE GOLIATH)
Moonlight FC kroon hulself as Eden-kampioene
Lundi Joxo (DCAS), Enrico Prins (SAFA EdenTesourie), Cllr Mziwoxolo Tyatya (Uitvoerdende burgemeester van Oudtshoorn), Vin-Rey Jacobs (kaptein van Moonlight), Keanan Du Plessis (Voorsitter van Moonlight), Dawie Stalmeester (SAFA Eden ligakoördineerder). Foto verskaf.