Langenhoven Gimnasium het op Saterdag 20 Junie 2026 met trots die Landloop Liga 4- byeenkoms aangebied en daarmee nie net as gasheerskool uitgeblink nie, maar ook indrukwekkende prestasies op die baan gelewer.
Atlete van regoor die streek het op die Gimmies-terrein saamgetrek vir ’n dag van mededingende en opwindende landloopaksie. Die byeenkoms was die derde ligabyeenkoms wat deur Langenhoven Gimnasium aangebied is, en die skool het weereens bewys dat dit oor die vermoë beskik om sportgeleenthede van hoë gehalte suksesvol aan te bied.
Die Gimmies-atlete het die geleentheid ten volle benut en uitstekende uitslae behaal. Verskeie atlete het hul onderskeie ouderdomsgroepe gewen en sodoende die skool se naam hoog gehou.
In die meisiesafdelings het Iza Lourens die eerste plek in die o. 14-wedloop verower, terwyl Sarah Saayman as wenner in die o. 15-afdeling geëindig het. Caitlyn Cawood het die o. 17- wedloop gewen en Ané Bester was die beste atleet in die o. 19-afdeling.
Die seuns het ewe sterk presteer.
Alexander van der Westhuizen het die eerste plek in die o.16-afdeling behaal, terwyl CJ Jaftha die o. 17- wedloop gewen het. Henru Erasmus het ’n ver- dienstelike derde plek in die o. 16-afdeling behaal. Stiaan van Wyk het sesde geëindig in die o. 15-afdeling, terwyl Tommie Olivier vierde plek in die o. 17-afdeling verower het.
Volgens die skool is hierdie prestasies die resultaat van harde werk, deursettingsvermoë en toegewyde voorbereiding deur die atlete en hul afrigters. Die uitslae getuig van die sterk landloopkultuur wat oor die jare by Langenhoven Gimnasium gevestig is.
Die skool het sy dank uitgespreek teenoor alle deelnemende skole, beamptes, ouers en ondersteu-ners wat bygedra het tot die sukses van die dag. Met hierdie indrukwekkende vertonings sien die Gimmies-atlete uit na die volgende ligabyeenkomste en die geleentheid om voort te bou op hul uitstekende vorm. (GRANWILLE GOLIATH)
Langenhoven Gimnasium blink uit as gasheer én op die baan by Landloop Liga 4
Foto’s verskaf.