Dayla Boys triomfeer by jaarlikse Jeugdag-sokkertoernooi

Foto: Granwille Goliath

Die sportvelde van die Infantry Skool het Saterdag gegons van opgewondenheid toe jong sokkertalent van regoor die streek aan die 3de jaarlikse Jeugdag-sokkertoernooi deelgeneem het. Die toernooi, wat jaarliks groei in gewildheid, het uitstekende vaardighede, sportmangees en strawwe mededinging opgelewer.

In die o. 15-afdeling het spanne mekaar die stryd aangesê in twee groepe. In Groep A het Young Stars FC en Athletico FC mekaar in twee opwindende wedstryde gepak, terwyl Alpha FC ODN en Dayla Boys FC in Groep B meegeding het.

Die halfeindstryde het vir groot opwinding gesorg. Dayla Boys FC het Athletico FC met 2-0 geklop om hul plek in die eindstryd te bespreek, terwyl Alpha FC ODN met ‘n skrale 1-0 oorwinning oor Young Stars FC geseëvier het. Dit het die verhoog geskep vir ‘n spannende eindstryd tussen Dayla Boys FC en Alpha FC ODN, twee spanne wat deur die dag indrukwekkende vertonings gelewer het.

Die o. 17-kompetisie het ewe veel aksie opgelewer. In Groep A het Dayla Boys FC hul stempel afgedruk met sterk vertonings teen Alpha FC ODN en Young Professionals FC. Groep B is oorheers deur De Rustica FC, wat onder meer ‘n indrukwekkende 8-0 oorwinning oor Athletico FC behaal het.

In die halfeindstryd het Dayla Boys FC hul uitstekende vorm voortgesit deur De Rustica FC met 2-1 te verslaan. Die tweede halfeindstryd tussen Young Stars FC en Alpha FC ODN is egter deur beide klubs verbeur, wat beteken het dat geen wenner aangewys is nie.

Met hul oorwinning in die halfeindstryd is Dayla Boys FC as die kampioene van die Build It o. 17-beker 2026 gekroon. Die span se deursettingsvermoë, dissipline en aanvallende spel het hulle as die uitstaande span van die toernooi gevestig. Opregte dank en waardering word uitgespreek aan die Bevelvoerder van Infantry School, Kol. Tiisetso Sekgobela, vir sy ondersteuning van junior sokkerontwikkelingsprogramme en vir die geleentheid om die toernooi by die Infantry School-sportgronde aan te bied.

Verdere dank gaan aan dr. Helen Motloung en me. D. Hendricks, voorsitters van die Infantry School Militêre Sportkomitee, lt.kol. Wagenaar van die PTSR-afdeling, asook die kapelane van Infantry School, kapelaan Smit en kapelaan Ngowayna, vir hul bydrae tot die sukses van die dag.

‘n Spesiale woord van waardering word gerig aan die Oudtshoorn Plaaslike Sokkervereniging, onder leiding van voorsitter mnr. Gabriel Majolla en sy bestuurspan, vir hul samewerking en ondersteuning. Dankie ook aan die eienaar en personeel van Build it Oudtshoorn, Blue Ribbon en hul personeel vir hul ruim borgskappe en betrokkenheid. Waardering word verder uitgespreek teenoor Miss Top Model World 2026 en Pre Teen Universe SA-finalis 2026, Lethabo Sekgobela, vir haar teenwoordigheid en ondersteuning.

Baie geluk aan al die deelnemende spanne wat uitstekende sportmangees en talent ten toon gestel het. ‘n Besonderse gelukwensing aan Dyla Boys FC, wat as kampioene van die o. 17-afdeling gekroon is. Die span het die Build it Oudtshoorn-trofee, goue medaljes en waardevolle pryse gewen.

Die sukses van die toernooi bevestig weer eens die belangrikheid van samewerking tussen die gemeenskap, borge en organisasies om jeugsport te bevorder en jong talent te ontwikkel. Ons sien reeds uit na die 4de Jaarlikse Jeugdag-Sokkertoernooi. (GRANWILLE GOLIATH)